Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 13

Breek los en spring want Hy sal jou vang

Bybelteks(te)

PSALMS 33

13Die Here kyk uit die hemel

en sien al die mense.

14Van die plek waar Hy as koning sit,

sien Hy almal wat onder op die aarde woon.

PSALMS 33:13-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 16

9Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Maar nou het jy dwaas opgetree en daarom sal jy van nou af oorlog hê.”

2 KRONIEKE 16:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

JAKOBUS 4

8Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.

Ek gesels ʼn tyd gelede met ʼn vrou wat deur haar trane aan my erken dat sy weens trauma wat sy in haar lewe ervaar het, haar geloof in God verloor het. Voel jy dalk dieselfde vandag? Het ʼn teleurstelling, verlies of seer in jou lewe veroorsaak dat jy sukkel om God se goedheid raak te sien?

Ek hoor ʼn storie van ʼn pa wat een oggend deur die rooksensor in die kelder van hulle huis wakker gemaak is. Hy het dadelik sy vrou wakker gemaak en daarna na hulle kinders se kamers gehardloop om dieselfde te doen.

Terwyl die pa hulle dogtertjie dra, wat toe een en ʼn half jaar oud was, en hulle seuntjie van vier aan die hand uit die huis begin lei, het die rook in die huis al digter geword. In ʼn stadium het die seuntjie losgebreek en vooruit gehardloop. Die pa het aangeneem dat hy buitentoe hardloop. Wat hulle egter nie besef het nie, is dat die seuntjie in sy kamer tussen die speelgoed gaan wegkruip het. Hy het gedink dat hy veilig sou wees daar.

Toe die pa buite kom, het hy geskok besef dat die kind nie daar is nie. Toe hy opkyk kon hy die verskrikte seuntjie se koppie by sy slaapkamervenster sien uitsteek waar hy uit volle bors om hulp skree. Die pa het dadelik onder die kamervenster gaan staan en vir die seuntjie geskree om af te spring. Benoud het hy teruggeantwoord: “Maar, Pappa, ek kan jou nie sien nie!” Hierop het die pa geantwoord: “Toemaar, ek kan jou wel sien!” Die seuntjie het in geloof gespring en veilig in sy pa se arms geland.

Wanneer ons uitdagende situasies in ons lewens ervaar kan ons maklik, soos die seuntjie op die eerste verdieping van die brandende huis, vasgevang voel omdat ons sukkel om God, ons Vader, deur die “rook” raak te sien. Sy oë bly egter konstant op ons. Luister maar na die woorde in Psalm 33:13-14: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon.” Ook in 2 Kronieke 16:9 lees ons: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.”

Ook in die Sistynse Kapel in die Vatikaanstad demonstreer die skilder, Michelangelo, bogenoemde met sy skildery “Skepping van Adam”. Hierin steek God sy hand na die mensdom uit. Al wat ons moet doen om sy krag en goedheid te ervaar, is om sy hand aan te raak. In Jakobus 4:8 lees ons immers: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”

Wanneer twyfel, bitterheid of hartseer weer dreig om jou te oorweldig, herinner jouself daaraan dat God, nes die pa langs die brandende huis, gereed staan om jou te vang (al sien jy Hom nie). Steek gerus jou hand uit om aan syne te raak. Dít mag dalk net jou lewe verander. Onthou, die Skepper van die heelal is ʼn waarmaker van sy Woord en as Hy sê dat jy Hom sal vind as jy na Hom soek, is dit presies wat sal gebeur. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS