Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 12

Breek los en kies die “badeendjie”

Bybelteks(te)

1 SAMUEL 15

22Maar Samuel antwoord:

“Is brandoffers en ander diereoffers

net so aanneemlik vir die Here

as gehoorsaamheid aan sy bevel?

Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande,

om te luister is beter as die vet van ramme.

1 SAMUEL 15:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 5

16Die Jode het toe teen Jesus te velde getrek omdat Hy dit op 'n sabbatdag gedoen het.

JOHANNES 5:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 55

8My gedagtes is nie julle gedagtes nie,

en julle optrede nie soos Myne nie,

sê die Here;

9soos die hemel hoër is as die aarde,

so is my optrede verhewe bo julle optrede

en my gedagtes bo julle gedagtes.

JESAJA 55:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Rol toiletpapier of ʼn splinternuwe, helderkleurige badeendjie? Dít was waaruit my dogtertjie, Joalé, een aand tydens badtyd kon kies toe sy 11 maande oud was.

Joalé was in haar ontdekkingsfase en het om die een of ander rede ʼn fassinasie met ʼn rol toiletpapier ontwikkel. Sodra sy een in die hande kry, word dit afgerol en in die mond gedruk – tot my ontsteltenis! Toe ek die een aand in die badkamer kom nadat ek ʼn handdoek gaan haal het, staan sy met ʼn breë, tevrede glimlag na my en kyk met ʼn halwe rol toiletpapier in die hand.

Ten spyte van al my pogings om dit uit Joalé se hande te neem en haar aandag op die splinternuwe, helderkleurige badeendjie te plaas, wou sy niks weet nie. Sy wou net die toiletpapier hê. Uiteindelik moes ek haar noodgedwonge met die rol toiletpapier in die bad sit.

Terwyl ek staan en kyk hoe die grillerige, nat toiletpapier in die water begin ronddryf saam met die splinternuwe badeendjie wat onaangeraak bo-op die badwater dobber, tref dit my: Ons doen baie keer presies dieselfde in ons geloofslewe. Ons bid vir ʼn antwoord op ʼn uitdagende situasie. Hoewel God ons antwoord, mis ons dit omdat ons vaskyk teen ons vooropgestelde idee van hoe ons dink God ons behoort te antwoord. Óf ons hou so vas aan die verlede, ʼn onvergewensgesindheid of ʼn seisoen wat eintlik al verby is (in die werkplek, ʼn verhouding wat beëindig is of vele ander) dat ons nie sien wat God nuut in ons lewens wil doen nie.

God werk egter op maniere buite ons verwysingsraamwerk – en ons moet ontvanklik wees daarvoor. Dink maar aan Moses wat by die Rietsee op die water moes slaan om ʼn pad daardeur te maak; Josua en die Israeliete wat sewe maal om Jerigo moes stap voordat hulle die ramshorings kon blaas en beleef hoe die stad se mure inmekaar tuimel; of Petrus wat die boot moes los om op die water te loop. Omdat Moses, Josua en Petrus gehoorsaam was aan God, het hulle sy krag beleef.

As ons God se krag in ons lewens wil beleef is ons gehoorsaamheid en vertroue dat Hy die beste weet ook van kardinale belang. In 1 Samuel 15:22 lees ons immers: “Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme.” In Johannes 5:16 sê Jesus: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so.” En in Jesaja 55:8-9 praat God self: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.”

Is jy gehoorsaam as God met jou praat en aanvaar jy dat sy antwoord die beste is – al maak dit nie noodwendig vir jou sin nie? As my dogtertjie die toiletpapier vir ʼn oomblik neergesit het en die badeendjie opgetel het, sou sy nie net besef het dat dit baie meer geskik is vir die badomgewing nie; as sy kon praat is ek seker sy sou my vra om die grillerige, nat stukke toiletpapier uit die bad te verwyder. Dryf daar dalk ook van dié stukke in jou lewe rond? Moenie so vaskyk in die rol toiletpapier dat jý God se “helderkleurige badeendjie” vir jou situasie miskyk nie! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS