Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Breek los – Dag 11

Breek los en leef positief

Bybelteks(te)

SPREUKE 18

21Die tong het mag oor dood en lewe;

dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.

SPREUKE 18:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 141

3Sit 'n wag voor my mond, Here,

hou tog wag oor wat ek sê.

PSALMS 141:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

JEREMIA 29

11Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

JEREMIA 29:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

ROMEINE 8

28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

ROMEINE 8:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 23

6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly

en ek sal tuis wees in die huis van die Here

tot in lengte van dae.

Op ʼn dag word ʼn man deur die koning van sy land ter dood veroordeel. Ten spyte van al sy pleidooie wou die koning niks weet nie. “Neem hom weg!” het hy beveel terwyl sy knegte die man uit die vertrek begin sleep het. “U Majesteit,” het die veroordeelde man vir oulaas oor sy skouer geskree, “as u my lewe spaar, sal ek u perd, daardie een waarvoor u so geweldig lief is, binne ʼn jaar leer vlieg!”

Tot almal se verbasing het die koning sy knegte gestop en gebulder: “Toegestaan! Onthou egter, as die jaar verby is en my geliefde perd kan nie vlieg nie, hang jy!”

Daardie aand by die huis wou die man se familie bekommerd weet hoe hy beplan om die perd te laat vlieg. Die optimistiese siel het geantwoord: “Ag, wie weet? Die onregverdige koning mag dalk die jaar sterf. Of die perd kan vrek. Of dalk, net dalk leer ek hom wel vlieg …”

Net soos hierdie man kan ons ook met ʼn positiewe ingesteldheid berge versit. Net so kan ʼn negatiewe ingesteldheid ons al dieper in die put van depressie laat wegsak. Dus, deur watter bril kyk jy na jou huidige siektetoestand, jou werkloosheid, jou finansiële krisis, jou rebelse tiener, jou gebroke huwelik of jou eensaamheid? Ons lewensingesteldheid het ʼn invloed op ons woorde en ons woorde weer op wat ons in ons lewens ervaar. In Spreuke 18:21 lees ons immers: “Dood en lewe is in die mag van die tong …” Die psalmdigter het dit verstaan. Dit is dus geen wonder dat hy in Psalm 141:3 bid: “Sit ʼn wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê. Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge.”

As ons verstaan wat God oor ons lewens sê, raak dit makliker om ʼn positiewe gesindheid te behou of selfs aan te leer – selfs in die grootste storm. In Jeremia 29:11 sê God: “Ek weet wat Ek vir julle beplan … voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting!” In Romeine 8:28 lees ons: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” En in Psalm 23:6 staan geskryf: “U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.”

Ek vra jou weer: Deur watter bril kyk jy na jou huidige storm? Kom ons maak dit ons doelwit om verby ons uitdagings te kyk en reeds in ons geestesoog te sien hoe God ons genees, hoe Hy vir jou as werklose ʼn werksgeleentheid gee, hoe Hy finansiële krisisse kom omdraai, rebelse tieners tot inkeer bring, gebroke huwelike herstel en vir die wat smag na ʼn lewensmaat, die regte persoon oor hul pad stuur. Niks is vir God onmoontlik nie – solank ons dieselfde ingesteldheid behou as die man wat geglo het dat die perd kan vlieg! Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS