Bible Society of South Africa

Die boek Amos

Die boek Amos is die derde van die boek van die Twaalf Profete.

Titel van die boek

Die boek Amos word vernoem na die profeet wat in Amos 1:1 vermeld word. In die opskrif word twee konings genoem: Ussia en Jerobeam. Dit dateer Amos se bediening in die middel van die agtste eeu (760-750 v.C.).


Amos was ʼn skaapteler en ʼn vyeboer van Tekoa, ongeveer 15 kilometer suid van Jerusalem. Die dorp self was in Juda, maar die woorde van die profeet is hoofsaaklik aan die noordelike koninkryk van Israel gerig. 

Inhoud

In die eerste ses hoofstukke van Amos is God die belangrikste spreker. Ten eerste vel Hy ʼn oordeel oor die nasies wat Israel omring, maar dan ook oor die volk Israel self. 


In die laaste hoofstukke speel Amos self ʼn groter rol. Die boek eindig met ʼn profesie van verlossing vir Israel: ʼn vreedsame en voorspoedige toekoms word aangekondig onder ʼn koning uit die geslag van Dawid.

Tema

Die sentrale tema van Amos is God se oordeel oor Israel. Ellende word aangekondig, hoofsaaklik omdat daar geen wet of geregtigheid in die gemeenskap is nie.


Die boek wil die luisteraars in sterk en soms sarkastiese taal met hulle boosheid konfronteer en roep hulle op om hulle gedrag te verander.

Kenmerke

Soos die meeste van die profetiese boeke bevat Amos verskillende tekssoorte. Ná die opskrif en ʼn vers met digterlike beeldspraak volg daar:

  • profetiese uitsprake en visoene; 
  • ʼn kort verhaal oor Amos en Amasia; 
  • ʼn aantal digterlike gedeeltes wat op daardie stadium liedere kon gewees het (Amos 4:13; Amos 5:8-9; Amos 9:5-6).

Die styl wissel met die verskillende tekstipes. Die profetiese orakels is sterk gestileer. Dit het ʼn bondige struktuur en sluit kenmerkende eienskappe van Hebreeuse poësie soos herhaling in. In Amos 1:3 – 2:16, byvoorbeeld, word die frase “as ... net drie keer sonde gedoen het ... Maar nou het hy ʼn vierde sonde daarby gevoeg” herhaal. Ook die formule “So sê die Here” word dikwels herhaal. Dit beklemtoon die feit dat die profeet op God se gesag spreek. 


Die taalgebruik in die digterlike gedeeltes is verhewe. Die persoonlike mededeling van die visioene word veelseggend aangebied.

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS