Bible Society of South Africa

1 Samuel

In 1 Samuel lees ons van die profeet Samuel, koning Saul wat die eerste koning van Israel is, en die opkoms van koning Dawid. 1 en 2 Samuel vorm ʼn aaneenlopende verhaal, maar in Bybels is die verhaal oor twee boeke versprei en selfs verder in 1 en 2 Konings voortgesit.

Titel van die boek

1 Samuel het sy naam te danke aan een van die hoofkarakters van die verhaal, die profeet Samuel. Hy was die laaste persoon wat leiding geneem het in Israel as ʼn rigter. Op hierdie manier toon hy die oorgang aan van die rigtertydperk na dié van die konings.

Inhoud

In 1 Samuel is daar verskeie temas wat met mekaar verband hou:

  • Die volk vra vir en ontvang ʼn koning, net soos al die ander nasies. Dit het langtermyn sosiale en politieke gevolge vir hulle gemeenskap.  
  • Terselfdertyd gee Samuel ʼn profetiese waarskuwing. Hy waarsku die volk teen die instelling van ʼn oorerflike monargie. Hy herinner hulle ook daaraan dat dit uiteindelik God is wat die Koning van sy volk bly, selfs wanneer ʼn aardse koning militêre en administratiewe beheer uitoefen. God bepaal altyd die verloop van die geskiedenis. 
  • ʼn Baie belangrike tema is die wettiging van die dinastie van Dawid. Aan Dawid is belowe dat sy koningshuis vir ewig sal duur. Hierdie belofte is die beginpunt van die verwagting dat daar ʼn ideale koning op ʼn later stadium sal wees. 

Styl

Die verhale in 1 en 2 Samuel is ʼn kombinasie van vertelkuns en geskiedskrywing. Dit kan gesien word as ʼn hoogtepunt in bybelse literatuur.


Die ondervindings van die verskillende karakters word in verskeie tonele aangebied en met mekaar gekontrasteer. ʼn Groot deel van die storielyn ontwikkel in lewendige, lewensgetroue dialoë. Anders as by 1 Konings en 2 Konings word byna geen kommentaar deur die verteller op gebeure gelewer nie. Dit word aan die lesers oorgelaat om hulle eie oordeel te vel. 


Die verhale word afgewissel met liedere, gebede en lyste.

 Posisie in die Bybel

Op grond van die historiese inhoud word 1 en 2 Samuel gereken as historiese boeke.


In die Hebreeuse Bybel, die Tanag, word 1 en 2 Samuel saam met Josua, Rigters, 1 Konings en 2 Konings by die Vroeë Profete geplaas. Hierdie boeke vertel hoe die Israeliete besit neem van die land Kanaän en hulleself daar vestig. Profete herinner die volk aanhoudend aan die wet van Moses en waarsku hulle teen die verbreking van die gebooie.

Verwante Bybelgedeeltes

1 SAMUEL 1

Lees verder?

Met ʼn gratis BibleSA-rekening kan jy:

  • Ander vertalings in alle amptelike tale lees.
  • Na die Bybel luister (11 vertalings is reeds beskikbaar).
  • Verskillende Bybelvertalings vergelyk.
  • Jou ervaring verspersoonlik deur jou eie notas en gemerkte tekste in te sluit. Jy kan ook jou notas en gemerkte tekste afsonderlik besigtig.
  • Toegang kry tot meer as 1 100+ onderwerpe en agtergrondartikels in Engels en Afrikaans asook 52 volkleurkaarte.

Bible Society of South Africav.4.18.12
VOLG ONS