Elkana en sy vrouens
1Daar was 'n man uit Ramatajim, 'n Suffiet uit die Efraimsberge. Hy was Elkana seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf uit Efrata. 2Hy het twee vrouens gehad. Die een se naam was Hanna en die ander s'n Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie.
3Elkana het elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, was in Silo priesters van die Here.
4Elkana het gewoonlik op die dag wanneer hy geoffer het, dele van die offermaaltyd aan sy vrou Peninna en al haar seuns en dogters gegee. 5Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het, kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly. 6Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het. 7So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie. 8Dan sê haar man Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?”
Hanna lê 'n gelofte af
9Op 'n keer ná die offermaaltyd in Silo het Hanna opgestaan terwyl die priester Eli op sy stoel langs die deurkosyn van die tempel van die Here gesit het. 10Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.
11Sy het 'n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my 'n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.”
12Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk. 13Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk.
14Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!”
15Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net 'n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here. 16Moet tog nie dink ek is 'n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.”
17Toe sê Eli: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.” 18En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.”
Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie. 19Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe.
Die geboorte van Samuel
Nadat hulle tuis gekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink. 20By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het 'n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: “Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!”
21Toe Elkana en sy hele gesin gaan om die jaarlikse offer aan die Here te bring en sy gelofte te betaal, 22het Hanna nie saamgegaan nie, want sy het vir haar man gesê: “Wanneer die seun gespeen is, sal ek hom wegbring dat hy voor die Here verskyn en altyd daar bly.”
23Haar man Elkana het vir haar gesê: “Maak soos jy dit goedvind. Bly totdat jy hom gespeen het. Mag die Here sy woord bevestig!”
Hanna het toe gebly en haar kind gevoed totdat sy hom gespeen het.
Samuel word na die tempel toe geneem
24Toe sy hom gespeen het, het sy hom saamgeneem, en ook 'n driejaaroud bul, sestien kilogram meel en 'n kruik wyn. Sy het hom as klein seuntjie weggebring na die huis van die Here toe in Silo. 25Elkana-hulle het die bul geslag en die seun na Eli toe gebring, 26en Hanna het gesê: “Ekskuus, Meneer, u sal my nie glo nie, maar, Meneer, ék is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die Here te bid. 27Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het aan my gegee wat ek van Hom afgesmeek het. 28Ja, van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is.”
Toe het hulle die Here daar aanbid.