Moses se geboorte en opvoeding
1'n Man uit die familie van Levi het gegaan en 'n dogter van Levi as vrou geneem. 2Die vrou het swanger geword en aan 'n seun geboorte gegee. Toe sy sien hoe mooi hy is, het sy hom vir drie maande weggesteek. 3Maar toe sy hom nie meer kon wegsteek nie, het sy vir hom 'n papirusmandjie gekry en dit met pik en teer dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die palmiete aan die kant van die Nyl neergesit. 4Sy suster het op 'n afstand gaan staan om te sien wat met hom gaan gebeur.
5Die dogter van die farao het afgegaan na die Nyl om haar te was, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl stap. Sy sien toe die mandjie tussen die palmiete en stuur haar slavin om dit te gaan haal. 6Toe sy dit oopmaak, sien sy die seuntjie – en kyk, dit was 'n babaseuntjie wat huil! Sy het hom jammer gekry en het gesê: “Dit moet een van die seuntjies van die Hebreërs wees.”
7Sy suster vra toe vir die farao se dogter: “Moet ek gaan en vir u 'n pleegma onder die Hebreeuse vroue gaan roep, sodat sy die seuntjie vir u kan voed?” 8Die farao se dogter het vir haar gesê: “Gaan!” Die jongmeisie gaan roep toe die seuntjie se moeder. 9Die farao se dogter het vir haar gesê: “Neem hierdie seuntjie en voed hom vir my. Ek sal jou self daarvoor betaal.” Die vrou het die seuntjie geneem en hom gevoed.
10Toe die seuntjie groter geword het, het sy hom na die farao se dogter gebring, en hy het haar seun geword. Sy het hom Moses genoem, “Want,” het sy gesê, “uit die water het ek hom gehaal.”
11In daardie dae, toe Moses al groot was, het hy uitgegaan na waar sy volksgenote was en hulle dwangarbeid gesien. Hy sien toe 'n Egiptiese man wat 'n Hebreeuse man, een van sy volksgenote, slaan. 12Hy het om hom rondgekyk, en toe hy sien dat daar niemand is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom met sand toegegooi. 13Toe hy die volgende dag uitgaan, is daar sowaar twee Hebreeuse mans aan die baklei. Hy vra toe die skuldige: “Waarom slaan jy jou medemens?” 14Die man het geantwoord: “Wie het jou as •aanvoerder en regter oor ons aangestel? Dink jy om my ook dood te maak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het bang geword en gedink, sowaar, die saak het bekend geword!
15Toe die farao van hierdie saak hoor, wou hy Moses laat doodmaak. Maar Moses het van die farao af weggevlug om in die land Midian te gaan woon. Hy het daar by 'n put gaan sit. 16Die priester van Midian het sewe dogters gehad. Hulle het daar aangekom om water uit die put op te trek en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink. 17Maar daar het veewagters opgedaag en hulle weggejaag. Moses het opgestaan, hulle gehelp en hulle kleinvee laat drink. 18Toe hulle by Reüel, hulle vader, kom, sê hy: “Waarom is julle vandag so gou terug?” 19Hulle het geantwoord: “Daar was 'n Egiptiese man wat ons uit die hand van die veewagters gered het. Hy het ook vir ons genoeg water uit die put opgetrek en die kleinvee laat drink.” 20Daarop sê hy vir sy dogters: “En waar is hy nou? Waarom het julle die man dan daar agtergelaat? Roep hom, sodat hy iets te ete kan kry.”
21Moses het ingewillig om by die man te bly en hy het sy dogter, Sippora, vir Moses as vrou gegee. 22Sy het aan 'n seun geboorte gegee, en Moses het hom Gersom genoem, “Want,” het hy gesê, “ek het 'n •vreemdeling geword in 'n vreemde land.”
Moses se roeping
23Gedurende hierdie lang tyd het die koning van Egipte gesterf. Die Israeliete het gesug onder die slawewerk en om hulp geroep. Hulle hulpgeroep oor die slawewerk het opgestyg na God. 24God het hulle gekreun gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. 25God het die Israeliete raakgesien, ja, God het kennis geneem.