Eksodus 1
Israel in Egipte
1Dit is die name van die Israeliete wat saam met Jakob na Egipte gegaan het, elkeen met sy huisgesin: 2Ruben, Simeon, Levi en Juda; 3Issaskar, Sebulon en Benjamin; 4Dan en Naftali, Gad en Aser. 5Daar was altesaam sewentig persone wat direk van Jakob afgestam het. Josef was toe reeds in Egipte. 6Josef, al sy broers en daardie hele geslag het gesterf. 7Maar die Israeliete was vrugbaar en het vermenigvuldig; hulle het vermeerder en besonder talryk begin word. Die land was vol van hulle.
8Daar het toe 'n nuwe koning oor Egipte aan bewind gekom wat nie van Josef geweet het nie. 9Hy het vir sy volk gesê: “Kyk, die Israelitiese volk is meer en magtiger as ons. 10Kom ons beraam 'n slim plan teen hulle, anders vermeerder hulle en kan dit gebeur dat, wanneer 'n oorlog uitbreek, ook hulle by ons vyande aansluit en teen ons veg en optrek uit die land.” 11Hulle het toe bevelvoerders van gedwonge arbeid oor die Israeliete aangestel om hulle met dwangarbeid te onderdruk. Hulle moes vir die farao die voorraadstede Pitom en Ramses bou.
12Maar hoe meer hulle die Israeliete onderdruk het, hoe meer het die Israeliete vermeerder en hoe meer het hulle versprei. Die Egiptenare het vreesbevange geraak vir die Israeliete 13en hulle toe met geweld gedwing om te werk. 14Hulle het hulle lewens bitter gemaak deur die harde slawewerk met klei en bakstene, en ook nog deur allerhande werk op die landerye, ja, met al die werk wat die Egiptenare die Israeliete met geweld gedwing het om te doen.
15Die koning van Egipte het toe met die Hebreeuse vroedvroue, wie se name Sifra en Pua was, gepraat. 16Hy het gesê: “Wanneer julle die Hebreeuse vroue met 'n bevalling help, kyk wat die baba se geslag is. As dit 'n seun is, maak hom dood; maar as dit 'n dogter is, laat haar leef.” 17Maar die vroedvroue het vir God ontsag gehad en hulle het nie gedoen wat die koning van Egipte vir hulle gesê het nie. Hulle het die seuntjies laat leef. 18Die koning van Egipte het toe die vroedvroue ontbied en vir hulle gesê: “Waarom het julle dit gedoen? Julle laat die seuntjies leef!” 19“Omdat,” antwoord die vroedvroue toe die farao, “die Hebreeuse vroue nie is soos die Egiptiese vroue nie – hulle is vol lewenskrag. Voordat die vroedvrou by hulle uitkom, het hulle klaar geboorte gegee.”
20En God het die vroedvroue goed behandel. Die volk se getalle het vermeerder en hulle het besonder baie geword. 21Omdat die vroedvroue vir God ontsag gehad het, het Hy vir hulle huisgesinne voorsien. 22Die farao het toe sy hele volk beveel: “Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl gooi, maar al die dogters moet julle laat leef.”
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met hoofletters © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.