1Moses het sy skoonvader, Jetro, die priester van Midian, se kleinvee opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag en uitgekom by die berg van God, by Horeb. 2Daar het die •Engel van die Here aan hom verskyn in 'n vuur wat uit 'n doringbos opvlam.
Moses het gesien daar is 'n doringbos aan die brand, maar dié doringbos word sowaar nie verteer nie. 3Toe dink Moses, ek moet afdraai, sodat ek na hierdie buitengewone verskynsel kan kyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?
4Toe die Here sien dat hy afgedraai het om dit van nader te bekyk, het God na hom geroep uit die doringbos: “Moses! Moses!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” 5Toe sê die Here: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.” 6Daarop sê Hy: “Ek is die God van jou voorvader, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Moses het sy gesig bedek, want hy was bang om na God te kyk. 7Die Here sê toe: “Ek het die ellende van my volk wat in Egipte is, duidelik gesien. Hulle noodkreet oor hulle slawedrywers het Ek gehoor. Ja, Ek ken hulle lyding. 8Ek het afgekom om hulle uit die hand van Egipte te red en hulle uit daardie land te laat optrek na 'n goeie en uitgestrekte land, na 'n land wat oorloop van melk en heuning, die woonplek van die Kanaäniete, die Hetiete, die •Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete. 9En nou, kyk, die noodkreet van die Israeliete het My bereik. Ek het ook die verdrukking waarmee Egipte hulle verdruk, raakgesien. 10Gaan dan nou! Ek stuur jou na die farao om my volk, die Israeliete, uit Egipte uit te lei.”
11Moses het egter vir God gesê: “Wie is ek, dat ek na die farao kan gaan en dat ek die Israeliete uit Egipte kan lei?” 12Hy het geantwoord: “Ek is immers by jou. En dit sal vir jou die teken wees dat dit Ek is wat jou gestuur het: Wanneer jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle God op hierdie berg dien.”
13Moses het vir God gesê: “Kyk, as ek by die Israeliete kom en vir hulle sê, ‘Die God van julle voorvaders het my na julle gestuur,’ en hulle vra my dan, ‘Wat is sy naam?’ wat moet ek vir hulle sê?” 14God sê toe vir Moses: “Ek Is Wie Ek Is.” Hy sê toe ook: “So moet jy die Israeliete antwoord, ‘Ek Is het my na julle gestuur.’ ” 15God het weer vir Moses gesê: “So moet jy vir die Israeliete sê,
“ ‘Die Here, die God van julle voorvaders,
die God van Abraham,
die God van Isak,
die God van Jakob,
het my na julle gestuur.’
Dit is my Naam vir altyd;
dit is my gevierde Naam van geslag tot geslag.
16“Gaan, en bring die oudstes van Israel byeen, en sê vir hulle, ‘Die Here, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: “Ek gee noukeurig aandag aan julle en aan wat julle in Egipte aangedoen word. 17Ek verklaar dan: Ek sal julle laat optrek, weg van die ellende in Egipte, na die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning.” ’
18“Hulle sal na jou luister, en dan moet jy en die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan. Julle moet vir hom sê, ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het Hom aan ons bekend gemaak. Laat ons asseblief dan nou drie dagreise ver die woestyn ingaan, sodat ons aan die Here ons God kan offer.’ 19Ek weet egter dat hy, die koning van Egipte, julle nie sal toelaat om te gaan nie, tensy hy gedwing word deur 'n kragtige hand. 20Maar Ek sal my hand uitsteek en Egipte tref met al my wonders wat Ek in hulle midde gaan doen. Daarna sal hy julle laat gaan. 21Ek sal sorg dat die Egiptenare hierdie volk goedgesind is, sodat wanneer julle gaan, julle nie met leë hande sal gaan nie. 22Elke vrou moet van haar buurvrou of van die een wat in haar huis tydelike verblyf geniet, silwer- en goue voorwerpe en klere eis. Julle moet julle seuns en dogters dit laat saamdra. So moet julle buit neem van die Egiptenare.”