Tobit 2
Tobit se blindheid
1In die tyd van koning Esarhaddon het ek teruggekeer na my huis, en my vrou Anna en my seun Tobias is aan my teruggegee. Tydens ons Pinksterfees, die heilige Fees van die Sewe Weke, is 'n baie goeie ete vir my voorberei en ek het aangeleun om te eet. 2Toe die tafel vir my voorberei is, en besonder baie disse vir my voorgesit is, het ek vir my seun Tobias gesê: “Gaan, kind, en as jy enige arm mens van ons broers onder die ballinge in Nineve kry, iemand wat sy gedagtes heelhartig op God rig, bring hom en hy sal saam met my eet. Kyk, ek sal vir jou wag, kind, tot jy terugkom.”
3Tobias is weg om 'n arme uit ons volksgenote te gaan soek, en toe hy terugkom, sê hy: “Vader!” Ek sê toe vir hom: “Hier is ek, kind.” Hy antwoord: “Kyk, Vader, een van ons volksgenote is vermoor en op die markplein gegooi; hy is so pas daar verwurg!” 4Ek het opgespring en die ete gelos sonder om eers daaraan te proe. Ek het die dooie weggedra van die plein af en hom in een van die buitegeboue gesit tot die son ondergaan en ek hom kon begrawe. 5Nadat ek teruggekeer het, het ek my gewas en my kos met droefheid geëet. 6Ek het aan die uitspraak van die profeet Amos gedink wat hy teen Bet-El gemaak het:
“Julle feeste sal
in droefheid verander,
en al julle prysliedere
in 'n treurlied.”
Ek het gehuil. 7Toe die son onder was, het ek 'n graf gaan grawe en die man begrawe. 8My bure het my uitgelag en gesê: “Is hy nog steeds nie bang nie? Hy is vroeër juis oor hierdie saak gesoek om doodgemaak te word en het toe weggehardloop en kyk, nou begrawe hy al weer dooies!” 9Daardie selfde nag het ek my gewas en in my binnehof gegaan en teen die muur gaan lê en slaap. As gevolg van die hitte was my gesig ontbloot. 10Ek het nie geweet dat daar mossies op die muur bokant my was nie. Hulle mis, wat nog warm was, het in my oë geval en wit vliese veroorsaak. Ek het die dokters besoek om gesond te word, maar hoe meer medisyne hulle aangewend het, hoe meer het my gesig as gevolg van die wit vliese verswak, tot ek heeltemal blind was. Ek kon vir vier jaar nie sien nie en my hele familie het oor my getreur. Agikar het twee jaar lank vir my gesorg voordat hy na Elimaïs is.
11In daardie tyd het Anna, my vrou, geld verdien deur vrouetake te verrig. 12Sy het dit gewoonlik na haar werkgewers geneem en hulle het haar dan betaal. Eenkeer, op die sewende dag van die maand Dustros, het sy die weefstuk afgesny en na haar werkgewers geneem. Hulle het haar die volle betaling gegee en ook 'n bokkie uit hulle kudde om huis toe te neem. 13Toe die bokkie by my kom, begin hy blêr. Ek roep toe vir Anna en vra haar: “Waar kom hierdie bokkie vandaan? Hy is tog nie gesteel nie? Gaan gee hom terug vir sy eienaars; ons het geen reg om iets te eet wat gesteel is nie.” 14Toe sê sy vir my: “Hy is as 'n geskenk vir my gegee, bo en behalwe die betaling.” Maar ek het haar nie geglo nie en vir haar gesê om hom te gaan teruggee aan sy eienaars. Ek het hieroor rooi van woede vir haar geword. Daarop antwoord sy my: “En waar is al jou barmhartigheid nou, en waar al jou goeie dade? Kyk, jou manier van doen is algemeen bekend!”
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.