Tobit se gebed
1Ek was sielsbedroef, en ek het gesug en geween en kermend begin bid:
2“U is regverdig, Here,
al u dade is reg,
al u weë is barmhartigheid
en waarheid.
U oordeel die wêreld.
3En nou, Here, dink aan my,
sien my raak,
en moenie my straf vir my sondes
en vir wat ek en my voorvaders
onwetend teen U gesondig het nie.
4Ek het u gebooie oortree
en U het ons uitgelewer
aan plundering, gevangenskap
en die dood;
ons het 'n bespotting,
'n skinderstorie,
'n voorwerp van minagting geword
by die nasies waaronder
U ons verstrooi het.
5Nou is u talle oordele reg;
dit is die straf oor my sondes,
omdat ons nie u gebooie gehou
en nie getrou voor U
gewandel het nie.
6Handel nou met my
soos U goedvind
en gee opdrag dat my gees
uit my weggeneem word
sodat ek van die aarde
bevry kan wees en stof word.
Daarom is dit vir my beter
om te sterf as om te leef,
want ek het leuenagtige
beledigings aangehoor
en ek dra baie pyn met my saam.
Here, gee opdrag dat ek bevry word
van hierdie swaarkry.
Laat my na die ewige plek gaan.
Moenie u gesig van my af
wegdraai nie, Here,
want dit is vir my beter om te sterf
as om soveel swaarkry in my lewe
te ervaar
en om beledigings aan te hoor.”
Sara se swaarkry en haar gebed
7Daardie selfde dag het dit gebeur dat Sara, die dogter van Raguel wat in Ekbatana in Medië woon, die beledigings van een van haar vader se diensmeisies aangehoor het. 8Die rede hiervoor is dat Sara reeds vir sewe mans as vrou gegee is, maar die bose demoon Asmodeus het hulle doodgemaak voordat hulle by haar kon slaap – soos wat vir vroue gebruiklik was. Die diensmeisie het vir haar gesê: “Dit is jý wat jou mans doodmaak. Kyk, jy is reeds aan sewe mans as vrou gegee, maar jy het nie een van hulle se naam gedra nie. 9Hoekom straf jy ons oor jou mans omdat hulle gesterf het? Gaan saam met hulle. Mag ons nooit 'n seun of dogter van jou sien nie.”
10Sy was daardie dag sielsbedroef en het gehuil. Sy het na haar vader se bokamer gegaan en wou haarself ophang. Sy het haar toe bedink en gesê: “Mag hulle nooit my pa beledig en vir hom sê, ‘Jy het net een geliefde dogter gehad en sy het haarself opgehang oor haar probleme’ nie. So sal ek my pa in sy ouderdom met droefheid in Hades laat ingaan. Dit is vir my beter om nie myself op te hang nie, maar die Here te smeek dat ek mag sterf sodat ek nie langer sulke beledigings in my lewe hoef aan te hoor nie.” 11Sy het op daardie oomblik haar hande na die venster uitgestrek en gebid:
“Lofwaardig is U, barmhartige God,
en lofwaardig is u Naam
tot in ewigheid.
Laat al u werke
U tot in ewigheid loof.
12En nou is my gesig na U gewend
en ek rig my oë op na U.
13Laat my bevry word
van die aarde
en nie meer beledigings
aanhoor nie.
14U, Here, weet dat ek vry is
van enige •onreinheid met 'n man.
15Ek het ook nooit my naam
en die naam van my vader
tot skande gemaak in die land
van my gevangenskap nie.
Ek is my vader se enigste kind;
hy het geen ander kind
wat by hom sou kon erf nie;
hy het geen nabye familielid
of stamlid vir wie ek myself
sou kon bewaar as vrou nie.
Sewe van my mans is reeds dood.
Wat is daar dan nog vir my oor
om voor te leef?
As U verkies om my nie
te laat doodgaan nie,
Here, hoor dan
hoe ek beledig word.”
Gebedsverhoring van Tobit en Sara
16Op daardie oomblik is al twee se gebede in die heerlike teenwoordigheid van God gehoor. 17Toe is Rafael gestuur om hulle albei gesond te maak: vir Tobit, deur die wit vliese van sy oë te verwyder sodat hy met sy oë God se lig kon sien; en vir Sara, die dogter van Raguel, deur haar as vrou te gee aan Tobias, die seun van Tobit, en haar te bevry van Asmodeus, die bose demoon. Want vir Tobias kom dit toe om haar te kry bo al die ander wat haar wou hê.
Op daardie oomblik het Tobit sy binnehof verlaat en sy huis binnegegaan, en Sara, die dogter van Raguel, het self ook afgekom van die bokamer.