1Dit is die verhaal van Tobit, seun van Tobiël, seun van Hananiël, seun van Aduel, seun van Gabael, seun van Rafael, seun van Raguel, uit die nageslag van Asiël, uit die stam Naftali. 2Tobit is in die tyd van Salmaneser, die koning van die Assiriërs, as krygsgevangene uit Tisbe weggevoer. Tisbe lê regs van Kedes in Naftali, in Bo-Galilea, bokant Gasor, in die rigting waar die son ondergaan, en links van Fogor.
Tobit se voorbeeldige lewe
3Ek, Tobit, het my lewe lank die pad van waarheid en geregtigheid geloop en baie aalmoese gegee aan my broers en my volksgenote wat my in krygsgevangenskap na Nineve in die land van die Assiriërs vergesel het.
4Toe ek nog in my eie gebied in die land Israel was, en ek nog 'n jong man, het die hele stam van my voorvader Naftali met die huis van my voorvader Dawid gebreek én met Jerusalem – die stad wat uit al die stamgebiede van Israel uitverkies is sodat al die stamme van Israel daar kon offer. En daar is die •tempel as woonplek van God gebou en gewy, vir al die geslagte tot in ewigheid. 5My hele familie en die huis van Naftali, my voorvader, het destyds oral op die berge van Galilea aan die kalf geoffer wat Jerobeam, die koning van Israel, in Dan laat maak het. 6Maar ek – net ek – het gereeld op die feesdae Jerusalem toe gegaan, soos daar vir die hele Israel as 'n ewige voorskrif bepaal is. Met die eerste vrugte, die eersgeborenes en die tiendes van die kuddes en die eerste skeersel van die skape, het ek my dan na Jerusalem gehaas. 7Ek het dit aan die priesters, die nageslag van Aäron, by die altaar oorhandig. En die tiende van die graan, wyn, olie, granate, vye en ander vrugte het ek vir die Leviete gegee wat in Jerusalem diens doen. Gedurende die sesjaartydperk het ek die tweede tiende in geld omgesit en dit elke jaar in Jerusalem gaan uitdeel. 8Ek het die derde tiende vir die weeskinders en die weduwees geskenk en vir die proseliete wat by die Israeliete kom woon het. Ek het dit in die derde jaar geneem en vir hulle gegee en ons het dit geëet volgens die voorskrif wat daaroor neergelê is in die Wet van Moses, en volgens die opdragte van Debora, die moeder van ons voorvader Hananiël. My vader het my wees agtergelaat toe hy dood is. 9Toe ek 'n man was, het ek 'n vrou uit die geslagslyn van ons familie geneem. Ek het 'n seun by haar verwek en hom Tobias genoem.
10Na my wegvoering as gevangene na die Assiriërs en toe ek daar 'n gevangene was, het ek by Nineve aangekom. Al my broers en my volksgenote het van die heidene se kos geëet, 11maar ek het my daarvan weerhou om van die kos van die heidene te eet. 12Omdat my gedagtes heelhartig op God gerig was, 13het die Allerhoogste my genade en aansien gegee voor Salmaneser, en ek het gewoonlik alles wat hy nodig het, vir hom gekoop. 14Ek het gereeld na Medië gegaan en aankope vir hom gedoen, van toe af tot sy dood. In die land Medië het ek silwer ter waarde van tien talent aan Gabael, Gabri se broer, toevertrou. 15Toe Salmaneser sterf en sy seun Sanherib in sy plek koning word, het die paaie na Medië onveilig geraak en kon ek nie meer daarheen reis nie.
16In die tyd van Salmaneser het ek baie aalmoese geskenk aan my broers, my volksgenote. 17Ek het van my kos gegee vir dié wat honger was en klere vir dié wat nie klere gehad het nie. As ek gesien het een van my volksgenote is dood en sy liggaam is buite die mure van Nineve gegooi, het ek hom gaan begrawe. 18Ek het elkeen begrawe wat Sanherib laat doodmaak het toe hy halsoorkop weggetrek het uit Judea. Dit was in die tyd van die oordeel wat die Koning van die hemel oor Sanherib gebring het as gevolg van al die godslastering waarmee hy gelaster het. Sanherib het in sy woede baie van die Israeliete om die lewe laat bring. Ek het hulle liggame gesteel en gaan begrawe. Sanherib het hulle gesoek, maar nie gekry nie. 19Een van die inwoners van Nineve het egter aan die koning gaan verklap dat dit ek was wat hulle begrawe het. Ek het gaan wegkruip, maar toe ek uitvind dat die koning van my weet en my lewe soek, het ek bang geword en gevlug. 20Alles wat aan my behoort het, is toe afgevat. Daar is niks vir my agtergelaat nie, behalwe my vrou Anna en my seun Tobias; alles is gekonfiskeer vir die koning se skatkis.
21Skaars veertig dae later het twee van Sanherib se seuns hom vermoor en na die Araratberge gevlug. Sanherib se seun Esarhaddon het ná hom koning geword. Hy het Agikar, my broer Hanael se seun, oor die staatskas van die koninkryk aangestel; hy was in beheer van die hele regeringsadministrasie. 22Toe het Agikar vir my gepleit en kon ek na Nineve terugkeer. Agikar was immers reeds onder Sanherib, koning van die Assiriërs, die hoofskinker, die bewaarder van die seëlring, die hoof van die finansiële administrasie en in beheer van die staatskas. Esarhaddon het hom egter ook as die tweede belangrikste man aangestel. Agikar was my broerskind, familie van my.