Verraad van Alkimus
1Drie jaar later het Judas en diegene saam met hom berig ontvang dat Demetrius, seun van Seleukus, met 'n sterk leërmag en vloot die hawe van Tripolis binnegevaar 2en die land in besit geneem het, nadat hy Antiogus, en dié se voog Lisias, om die lewe gebring het. 3'n Sekere Alkimus, 'n voormalige hoëpriester, het homself uit eie beweging ten tye van die oproer verontreinig, omdat hy besef het dat daar vir hom op geen manier meer redding of toegang tot die heilige altaar was nie, 4en hy het in omtrent die honderd-een-en-vyftigste jaar na koning Demetrius gegaan, vir hom 'n goue kroon en 'n palmtak geneem, asook, soos gebruiklik, die olyftakke uit die •tempel; maar op daardie dag het Alkimus niks gesê nie. 5Hy het egter 'n geleentheid aangegryp – wat sy eie dwaasheid aangehelp het – toe hy deur Demetrius na die Raad ontbied en ondervra is oor die houding en plan van die Judeërs. Hy het hierop geantwoord: 6“Diegene van die Judeërs wat Gasideërs genoem word, en wat deur Judas Makkabeus aangevoer word, hou aan veg, stook opstand en laat nie toe dat die koninkryk stabiel word nie. 7Daarom het ek, nadat die aansien wat my familie toekom, my ontneem is – naamlik die hoëpriesterskap – nou hierheen gekom, 8eerstens omdat ek opreg bekommerd is oor die belange van die koning en tweedens omdat ek vir my eie volksgenote omgee, want deur die dwaasheid van die genoemde persone is die lyding van ons volk nie gering nie. 9Omdat u presies weet van elkeen van hierdie sake, o koning, betoon ook die vriendelike welwillendheid wat u teenoor almal betoon, aan ons beleërde land en volk. 10Want solank as wat Judas leef, is dit onmoontlik vir die regering om vrede te handhaaf.” 11Nadat hy hierdie dinge gesê het, het die res van die Vriende wat Judas en sy saak vyandiggesind was, dadelik vir Demetrius verder opgestook. 12Hy het onmiddellik vir Nikanor gekies, wat in beheer was van die olifante, en hom as bevelvoerder van Juda aangestel en weggestuur 13met die opdrag om Judas om die lewe te bring, diegene saam met hom uitmekaar te jaag en Alkimus as hoëpriester van die grootste tempel aan te stel. 14Die heidennasies in Juda wat vir Judas gevlug het, het in groot groepe by Nikanor aangesluit en gedink dat die mislukkings en rampe van die Judeërs vir hulleself voorspoed sou beteken.
15Toe die Judeërs hoor van Nikanor se aantog en die aanval van die heidennasies, het hulle stof op hulle koppe gestrooi en gebid tot Hom wat sy eie volk vir ewig gevestig het en altyd sy eie erfdeel deur sy verskyning te hulp kom. 16Op bevel van hulle leier het hulle onmiddellik daarvandaan opgetrek en met die vyand by die dorp Dessau slaags geraak. 17Simon, die broer van Judas, het in die geveg teen Nikanor te staan gekom, maar vanweë die skielike stilstand wat deur die vyand veroorsaak is, geleidelik die geveg begin verloor. 18Nogtans het Nikanor gehuiwer om deur bloedvergieting 'n beslissing te bereik, omdat hy gehoor het van die dapperheid van Judas en sy manskappe, en hulle moed in gevegte vir die vaderland. 19Daarom het hy vir Posidonius, Teodotus en Mattatias gestuur om die regterhand te reik en te aanvaar. 20Nadat die voorwaardes goed ondersoek is, die leier dit aan die mense meegedeel het en dit geblyk het dat daar eenstemmigheid was, het hulle tot die ooreenkomste ingestem. 21Hulle het toe 'n dag bepaal waarop hulle eenkant bymekaar sou kom. Van elke kant het 'n strydwa vorentoe beweeg en elke groep het stoele gebring en dit in posisie geplaas. 22Judas het gewapende manne op strategiese plekke op gereedheidsgrondslag opgestel om skielike bedrog van die kant van die vyand te verhoed, en hulle het die nodige samesprekings gevoer. 23Nikanor het in Jerusalem aangebly en niks onbehoorliks gedoen nie, maar die groepe mense wat bymekaargekom het, weggestuur. 24Hy het altyd vir Judas in sy teenwoordigheid gehou, en was baie geheg aan die man. 25Hy het hom aangespoor om te trou en kinders te verwek. Judas het toe getrou, tot rus gekom en 'n gewone lewe gelei. 26Maar toe Alkimus hulle goedgesindheid teenoor mekaar sien, het hy die ooreenkomste wat gesluit is, geneem, na Demetrius gegaan en gesê dat Nikanor die regering vyandiggesind is, want hy het Judas, die samesweerder teen die koninkryk, as sy opvolger aangewys. 27Die koning het kwaad geword en, aangehits deur die valse beskuldigings van die skurk, 'n brief aan Nikanor geskryf waarin hy sê dat hy ontevrede is met die ooreenkomste en hom beveel om Makkabeus dadelik as gevangene na Antiogië te stuur. 28Toe Nikanor hiervan te hore kom, was hy verward en ontsteld omdat hy die ooreenkomste tot niet moes maak, want Judas het niks verkeerds gedoen nie. 29Aangesien dit egter nie moontlik was om die koning teen te gaan nie, het hy gewag vir 'n goeie geleentheid om die bevel met strategiese lis tot uitvoering te bring. 30Maar toe Makkabeus agterkom dat Nikanor onvriendeliker teenoor hom was, en dat sy ontmoetings met hom nie so hoflik soos gewoonlik was nie, het hy besef dat hierdie onvriendelikheid niks goeds voorspel nie. Hy het toe geen geringe aantal nie uit diegene wat saam met hom was, versamel en vir Nikanor weggekruip. 31Toe laasgenoemde agterkom dat hy op vernuftige wyse deur Judas uitoorlê is, het hy, terwyl die priesters die gebruiklike offers bring, na die grootste en heilige tempel gegaan en hulle beveel om die man uit te lewer. 32Toe hulle egter met 'n eed verklaar dat hulle nie weet waar die man is na wie hulle soek nie, 33het hy sy regterhand na die tempel uitgestrek en die volgende gesweer: “As julle Judas nie as gevangene aan my uitlewer nie, sal ek hierdie heiligdom van God met die grond gelyk maak, en ek sal die brandofferaltaar afbreek en hier 'n indrukwekkende tempel vir Dionisus oprig.” 34Nadat hy hierdie dinge gesê het, het hy weggegaan. Die priesters het hulle hande uitgestrek na die hemel en die ewige Verdediger van ons volk aangeroep met die woorde: 35“U, o Here van almal, wat niks nodig het nie, het dit goed gevind dat daar 'n tempel is waarin U onder ons woon. 36Bewaar dan nou, heilige Here van alles wat heilig is, hierdie huis wat onlangs geheilig is, onbesoedeld tot in ewigheid.”
Dood van Razis
37Daar is aan Nikanor berig dat 'n sekere Razis, een van die oudstes in Jerusalem, 'n man was wat sy medeburgers liefhet en 'n baie goeie reputasie gehad het. Vanweë sy welwillendheid het hy die bynaam “vader van die Judeërs” gekry, 38want hy is vroeër gedurende die tye van oproer beskuldig oor sy beoefening van die Judese godsdiens, en het met volle toewyding liggaam en siel vir die Judese godsdiens op die spel geplaas. 39Nikanor wou die vyandigheid wat hy teenoor die Judeërs gekoester het, duidelik wys, en het meer as vyfhonderd soldate gestuur om Razis te arresteer, 40want hy het gedink dat dit hulle skade sou berokken as hy hom arresteer. 41Die menigtes was op die punt om die toring in te neem waar hy geskuil het en was besig om die deur van die binnehof oop te dwing. Hulle het beveel dat vuur gebring en die deure aan die brand gesteek word. Omsingel van alle kante, het Razis homself met sy eie swaard deurboor. 42Hy wou eerder op 'n edele wyse sterf as om in die hande van sondaars te val en op 'n wyse wat sy adellike afkoms nie waardig is nie, verneder te word. 43Maar omdat die stryd so vinnig verloop het, het hy homself nie behoorlik raakgesteek nie, en terwyl die skares besig was om deur die deure na binne te gaan, het hy dapper teen die muur opgehardloop en homself op heldhaftige wyse na onder in die skares ingewerp. 44Hulle het vinnig padgegee, sodat daar 'n ruimte gekom het, en hy het in die middel van die oop ruimte geval. 45Hy het egter nog steeds asem gehaal. Deur woede aangevuur, het hy opgestaan en, alhoewel sy bloed soos 'n fontein uitgeborrel het en sy wonde ernstig was, het hy deur die skares gehardloop en op 'n steil rots gaan staan. 46Reeds heeltemal leeggebloei, het hy sy ingewande uitgeskeur, dit met albei hande gevat en na die skares geslinger, en die Heerser oor lewe en gees gesmeek om dit weer vir hom terug te gee. Op hierdie manier het Razis die lewe met die dood verwissel.