Dood van Menelaus
1In die jaar eenhonderd nege-en-veertig het diegene wat saam met Judas was, gehoor dat Antiogus Eupator besig was om met 'n menigte manskappe teen Juda op te ruk, 2saam met Lisias, sy voog en die hoof van regeringsake. Elkeen het 'n Griekse leërmag van honderd-en-tienduisend voetsoldate, vyfduisend driehonderd ruiters, twee-en-twintig olifante en driehonderd strydwaens met lemme aan die wiele gehad. 3Menelaus het ook by hulle aangesluit en Antiogus met valse voorwendsels aangepor, nie ter wille van die redding van sy vaderland nie, maar omdat hy gedink het dat hy daardeur in die amp bevestig sou word. 4Maar die Koning van konings het die woede van Antiogus teen die skuldige laat opvlam, en toe Lisias dit aan die lig bring dat Menelaus die oorsaak van al die moeilikheid was, het Antiogus hulle beveel om hom na Berea te neem en hom op die gebruiklike manier op daardie plek tereg te stel. 5Daar was 'n toring van vyftig el hoog, en vol as, met 'n tregtervormige stellasie wat steil in die as afloop. 6Daar word enigiemand wat skuldig is aan tempelroof, of berug is vir sekere ander misdade, deur almal afgestamp na sy dood. 7So 'n lot het die wetsoortreder Menelaus oorgekom, sodat hy gesterf het selfs sonder dat hy die grond getref het, 8en heeltemal tereg, want, omdat hy baie sondes gepleeg het teen die altaar waarvan die vuur en die as heilig is, het hy sy dood in die as gevind.
Oorwinning oor Antiogus V Eupator
9Die koning het barbaars geword in sy denke, en het gekom om die Judeërs baie erger dinge te wys as wat in die tyd van sy vader gebeur het. 10Toe Judas hiervan hoor, het hy die volk beveel om dag en nag die Here aan te roep, om nou, soos nooit tevore nie, dié te help wat op die punt staan om van hulle Wet en vaderland en heilige •tempel beroof te word, 11en om nie toe te laat dat die volk, wat kort tevore weer kon asem skep, in die hande van die godslasterende heidennasies val nie. 12Almal het saam die barmhartige Here drie dae lank ononderbroke gesmeek met weeklaag en vas en aanbidding. Daarna het Judas hulle bemoedig en beveel om gereed te staan. 13Nadat hy eenkant met die oudstes beraadslaag het, het hy besluit dat hulle moes opruk en die saak met die Here se hulp besleg, voordat die koning se leër Juda binneval en die stad inneem. 14Nadat hy die beslissing aan die Skepper van die wêreld toevertrou het, het hy diegene saam met hom aangemoedig om dapper tot die dood te veg vir die voorskrifte, tempel, stad, vaderland en staat. Toe het hy naby Modeïn kamp opgeslaan. 15Hy het vir sy manne die wagwoord “Die oorwinning van God!” gegee en in die nag met die dapperste uitgesoekte jong manne 'n aanval op die koninklike kwartiere geloods. Hy het ongeveer tweeduisend manskappe in die kamp doodgemaak en die leierolifant en sy hanteerder doodgesteek. 16Hulle het uiteindelik vrees en verwarring in die hele kamp gesaai, en toe suksesvol teruggetrek. 17Dit het teen dagbreek gebeur, danksy die beskerming van die Here.
Vredesverdrag met Antiogus V Eupator
18Maar toe die koning 'n voorsmakie gekry het van die Judeërs se waagmoed, het hy hulle posisies deur listige strategieë probeer vasstel. 19Hy het opgeruk teen die sterk Joodse vesting Bet-Sur, is verjaag, het weer aangeval, en is oorwin. 20Judas het voorrade ingestuur vir die manne wat binne was. 21Maar Rodokus, 'n man uit die slagorde van die Judeërs, het geheime inligting aan die vyand bekend gemaak. Hy is opgespoor, gevange geneem en opgesluit. 22Die koning het 'n tweede keer met die inwoners van Bet-Sur gepraat, hulle die regterhand van vriendskap gebied, en dit ook van hulle ontvang, en toe het hy teruggetrek. Hy het Judas en diegene saam met hom weer aangeval en is verslaan. 23Antiogus het gehoor dat Filippus, wat in Antiogië in beheer van die regering gelaat is, waansinnig geraak het. Die koning was verward en het die Judeërs ontbied, toegegee aan hulle voorwaardes, gesweer om aan al hulle regmatige eise te voldoen, en 'n ooreenkoms met hulle bereik. Hy het 'n offer gebring, die tempel geëer en die plek met agting bejeën. 24Hy het Makkabeus ontvang en Hegemonides as bevelvoerder vanaf Ptolemaïs tot Gerrar agtergelaat, 25en toe na Ptolemaïs gegaan. Die inwoners van Ptolemaïs was verontwaardig oor die ooreenkoms, want hulle het aanstoot geneem aan die voorwaardes en wou dit nietig verklaar. 26Lisias het die podium bestyg en die saak op bekwame wyse verdedig. Hy het hulle oortuig, gekalmeer, hulle goedgesindheid gewen en toe na Antiogië vertrek. Dit is hoe die koning se opmars en terugtog verloop het.