Dood van Nikanor
1Toe Nikanor berig ontvang dat Judas en diegene saam met hom in die gebied van Samaria was, het hy besluit om hulle op die rusdag aan te val wanneer dit veilig sou wees. 2Die Judeërs, wat gedwing was om saam met hom te gaan, het gesê: “Moet hulle nie op so 'n wrede en barbaarse wyse om die lewe bring nie, maar betoon respek vir die dag wat deur Hom, wat alles sien, bo ander dae geëer en heilig verklaar is.” 3Maar die driedubbele sondaar het gevra of daar in die hemel 'n heerser is wat beveel het dat die Sabbatdag gevier moet word. 4Toe het hulle verklaar: “Dit is Hy, die lewende Here self, die Heerser in die hemel, wat beveel dat die sewende dag gevier word.” 5Nikanor het egter geantwoord: “Maar ek sê, ek is die heerser op aarde wat julle beveel om julle wapens op te neem en uit te voer wat die koning wil hê.” Nogtans het hy nie daarin geslaag om sy wrede plan uit te voer nie.
6Met groot verwaandheid en vertoon het Nikanor besluit om 'n openbare teken van oorwinning oor Judas en diegene saam met hom op te rig. 7Maar Makkabeus het onophoudelik vertrou, met volle verwagting dat hy hulp van die Here sou kry, 8en hy het diegene saam met hom aangemoedig om nie bang te wees vir die aanval van die heidennasies nie, maar om te dink aan die hulp wat vroeër vir hulle van die hemel af gekom het en om nou die oorwinning te verwag wat die Almagtige vir hulle sal gee. 9Hy het hulle uit die Wet en die Profete aangemoedig, en toe hy hulle ook herinner aan die gevegte wat hulle suksesvol ten einde gebring het, het hy hulle meer entoesiasties gemaak. 10En nadat hy hulle woede laat opvlam het, het hy sy opdragte gegee en tegelykertyd gewys op die goddeloosheid van die heidennasies en hulle verbreking van ede. 11Hy het elkeen van hulle bewapen, nie alleen met die sekerheid wat skilde en spiese gee nie, maar met gepaste woorde van aanmoediging. Hy het ook vir hulle 'n geloofwaardige droom vertel, 'n soort visie, en almal opgebeur. 12Sy visioen was die volgende: Onias, die gewese hoëpriester, 'n goeie en adellike man, beskeie in die omgang, vriendelik van geaardheid, welsprekend, en iemand wat van jongs af alle aspekte van deugsaamheid bestudeer het, het sy hande uitgestrek en vir al die Judeërs gebid. 13Toe het daar nog so 'n man verskyn, opvallend vanweë sy grys hare en waardigheid, gehul in 'n wonderlike, baie luisterryke vernaamheid. 14Onias het gepraat en gesê: “Hierdie man wat sy broers liefhet en wat baie vir sy volk en die heilige stad bid, is Jeremia, die profeet van God.” 15Jeremia het sy regterhand uitgestrek en aan Judas 'n goue swaard oorhandig, en terwyl hy dit gee, het hy die volgende gesê: 16“Neem die heilige swaard as geskenk van God; hiermee sal jy die teenstanders neervel.”
17Aangemoedig deur Judas se baie edel en kragtige woorde om hulle aan te spoor tot dapperheid en om die siele van die jonges manhaftig te maak, het hulle besluit om nie kamp op te slaan nie, maar om moedig tot die aanval oor te gaan, en met alle waagmoed betrokke te raak om die saak te besleg, omdat die stad en die heilige voorwerpe en die •tempel in gevaar was. 18Want hulle vrees vir hulle vroue, kinders, broers en familie was vir hulle van minder belang; hulle grootste en eerste vrees was vir die heilige tempel. 19Die ontsteltenis en bekommernis oor die aanval in die oop veld op diegene wat in die stad agtergelaat is, was ook nie van 'n geringe aard nie. 20Terwyl almal reeds gewag het vir die komende beslissing en die vyand reeds nader gekom het, met hulle leërmag opgestel vir oorlog, die wilde diere strategies geplaas en die perderuiters ontplooi op die flanke, 21het Makkabeus, toe hy die teenwoordigheid van die menigtes, hulle verskeidenheid wapens en die bedreiging van die wilde diere sien, sy hande na die hemel uitgestrek en die Here wat wonders doen, aangeroep, omdat hy geweet het dat die oorwinning nie deur wapens beslis word nie, maar soos die Here ook al besluit – Hy bewerkstellig oorwinning vir dié wat dit verdien. 22En hy het Hom op hierdie wyse aangeroep en gesê: “U, Here, het u engel gestuur toe Hiskia koning van Juda was, en hy het in die kamp van Sanherib ongeveer honderd vyf-en-tagtigduisend manne doodgemaak. 23Heer van die hemel, stuur nou ook 'n goeie engel voor ons uit om vrees en bewing te veroorsaak. 24Mag, deur u kragtige arm, dié wat u heilige volk belaster, verpletter word.” Met hierdie woorde het hy geëindig.
25Diegene saam met Nikanor het met trompetgeskal en krygsliedere vorentoe beweeg. 26Diegene saam met Judas het onder aanroeping en gebede met die vyand slaags geraak. 27Terwyl hulle met hulle hande veg, maar met hulle harte tot God bid, het hulle nie minder nie as vyf-en-dertigduisend manne doodgemaak, en was hulle baie verheug oor hierdie verskyning van God. 28Ná afloop van die geveg, toe hulle vreugdevol begin vertrek, het hulle Nikanor herken waar hy met sy volle wapenrusting aan gesneuwel lê. 29Toe was daar 'n geskreeu en 'n opskudding, en hulle het die Heerser geprys in die taal van hulle voorvaders. 30En die man wat altyd met liggaam en siel die voorvegter was ter wille van sy medeburgers, wat van jongs af sy goeie gesindheid teenoor sy volksgenote volgehou het, het beveel dat hulle Nikanor se kop en sy arm tot by die skouer afkap en dit na Jerusalem neem. 31Toe Judas daar aankom, het hy sy volksgenote bymekaargeroep, die priesters voor die altaar laat staan en die mense vanuit die vesting laat haal. 32Hy het aan hulle die kop van die veragtelike Nikanor en die arm van die lasteraar, wat hy met gespog na die heilige huis van die Almagtige uitgestrek het, gewys, 33en hy het die tong van die goddelose Nikanor uitgesny en gesê dat hy dit stuk vir stuk vir die voëls sou gee en die beloning vir sy dwaasheid oorkant die tempel sou ophang. 34Almal het na die hemel gekyk en die Here geloof wat Hom geopenbaar het, en gesê: “Lofwaardig is Hy wat sy eie plek onbesoedeld bewaar het.” 35Judas het Nikanor se kop van die vesting laat afhang – vir almal 'n opsigtelike en duidelike teken van die hulp van die Here. 36Daarna het almal deur 'n algemene stemming besluit dat hierdie dag geensins onopgemerk verby moet gaan nie, en om dit op die dertiende van die twaalfde maand te vier, wat in Siries •Adar genoem word, een dag voor Mordegai se dag.
Slotwoord
37Dit is dan hoe dit met Nikanor verloop het, en sedertdien is die stad in beheer van die Hebreërs. Hier eindig ek nou my verhaal. 38As dit goed en op die punt af saamgestel is, is dit wat ek wou hê, maar as dit swak en middelmatig is, is dit die beste wat ek kon doen. 39Want, net soos dit skadelik is om slegs wyn of water te drink, terwyl wyn wat met water gemeng is, soet is en genot verskaf, so ook verbly die styl van die verhaal die ore van die lesers deur sy samestelling. Laat dit nou die einde wees.