Veldtogte van Judas
1Nadat hierdie verdrae gesluit is, het Lisias teruggegaan na die koning, en die Judeërs het hulle besig gehou met hulle boerdery. 2Maar sommige van die plaaslike goewerneurs, Timoteus en Apollonius, seun van Gennaius, sowel as Hieronimus en Demofon, en hiernaas ook Nikanor, die bevelhebber van die Cipriote, het hulle nie toegelaat om 'n bestendige en rustige lewe te lei nie. 3Die inwoners van Joppe het toe die volgende goddelose daad gepleeg: Hulle het die Judeërs wat saam met hulle gewoon het, uitgenooi om met hulle vroue en kinders aan boord van skepe wat deur hulle voorsien is, te gaan, asof daar geen kwaadgesindheid teenoor hulle was nie; 4dit is gedoen kragtens 'n amptelike besluit van die stad. Nadat die Judeërs dit aanvaar het, omdat hulle in vrede wou leef en geen agterdog gekoester het nie, het die mense van Joppe hulle op die see geneem en nie minder nie as tweehonderd laat verdrink. 5Toe Judas hoor van die wreedheid wat teenoor sy landgenote gepleeg is, het hy opdrag aan sy manne gegee, 6en nadat hy God, die regverdige regter, aangeroep het, het hy die moordenaars van sy broers aangeval. Hy het die hawe in die nag aan die brand gesteek, die skepe verbrand en dié wat saam daar skuiling gesoek het, met die swaard deurboor. 7Omdat die plek gesluit was, het hy teruggeval, met die doel om weer te kom en die hele bevolking van Joppe uit te roei. 8Toe hy verneem dat ook die inwoners van Jamnia van plan was om op dieselfde manier op te tree teen die Judeërs wat onder hulle gewoon het, 9het hy ook die inwoners van Jamnia in die nag oorval en die hawe en vloot aan die brand gesteek, sodat die gloed van die vuur tot in Jerusalem, tweehonderd-en-veertig stadion daarvandaan, gesien kon word.
10Toe hulle nege stadion daarvandaan weg was in die opmars teen Timoteus, het nie minder nie as vyfduisend Arabiere en vyfhonderd perderuiters hom aangeval. 11Ná 'n hewige geveg het Judas en diegene saam met hom, met die hulp van God, die oorwinning behaal. Die verslane nomades het Judas gesmeek om hulle die regterhand te reik en beloof om vir hulle beeste te gee en hulle met ander dinge ook behulpsaam te wees. 12Omdat Judas gedink het dat hulle in baie opsigte werklik nuttig kon wees, het hy ingestem om vrede met hulle te maak, en nadat hulle mekaar die regterhand van vriendskap gebied het, het hulle na hulle tente teruggegaan.
13Hy het ook 'n sekere stad met die naam Kaspin aangeval, wat versterk was met brûe en verskans met mure, en deur 'n gemengde bevolking van allerhande heidennasies bewoon was. 14Die inwoners het egter vertrou op die sterkte van die mure en hulle voedselvoorraad, en het baie arrogant teenoor Judas en diegene saam met hom opgetree, deur hulle te beledig en boonop godslasterlike en onwettige dinge te uiter. 15Toe het diegene wat saam met Judas was, die groot Heerser van die wêreld aangeroep, wat in die tyd van Josua sonder stormramme en oorlogswerktuie die mure van Jerigo omgegooi het, en hulle het die muur soos wilde diere bestorm. 16Hulle het die stad deur die wil van God ingeneem en 'n onbeskryflike groot slagting aangerig, sodat dit gelyk het of die aangrensende meer, omtrent twee stadion breed, vol bloed was. 17Daarvandaan het hulle sewehonderd-en-vyftig stadion weggetrek en in Garaka aangekom by die sogenaamde Toebiaini-Judeërs. 18Maar hulle het nie vir Timoteus in hierdie plekke aangetref nie, want hy het toe reeds onverrigtersake hiervandaan vertrek, hoewel hy op 'n sekere plek 'n baie sterk garnisoen agtergelaat het. 19Dositeus en ook Sosipatros, bevelvoerders van Makkabeus, het uitgemarsjeer en die mense wat deur Timoteus in die vesting agtergelaat is, doodgemaak – meer as tienduisend man. 20Makkabeus het sy leërmag in kohorte soldate verdeel en Dositeus en Sosipatros oor die kohorte aangestel, en hy het teen Timoteus opgetrek, wat honderd-en-twintigduisend voetsoldate en tweeduisend vyfhonderd perderuiters by hom gehad het. 21Toe hy verneem van Judas se opmars, het Timoteus die vroue en kinders en ander besittings vooruit gestuur na 'n plek genaamd Karnion, want die gebied was moeilik om te beleër en moeilik toeganklik omdat al die plekke so nou was. 22Maar toe Judas se eerste kohort soldate verskyn, het angs en vrees oor die vyand gekom omdat die Alsiende aan hulle verskyn het. Hulle het toe haastig in verskillende rigtings op die vlug geslaan, met die gevolg dat hulle dikwels deur hulle eie manne beseer en deur die punte van hulle swaarde deurboor is. 23Judas het hulle verbete agtervolg en die booswigte neergevel en ongeveer dertigduisend manne uitgewis. 24Timoteus self het in die hande van Dositeus en Sosipatros en diegene saam met hulle geval. Met groot listigheid het hy hulle gevra om hom ongedeerd te laat gaan, aangesien hy die meeste van hulle se ouers en sommige van hulle se broers gevange gehou het, en dat dit daartoe sou kon lei dat hulle nie ontsien sal word nie. 25Nadat hy met baie woorde sy eed bevestig het om hulle ongedeerd terug te besorg, het hulle hom laat gaan ter wille van die redding van hulle broers.
26Toe het Judas opgeruk teen Karnion en die heiligdom van Atergatis en vyf-en-twintigduisend mense doodgemaak. 27Ná die nederlaag en vernietiging van die gebied, het hy ook teen Efron, 'n versterkte stad waarin Lisias en 'n menigte mense van alle nasionaliteite gewoon het, oorlog gemaak. Sterk jong manne het voor die mure posisie ingeneem en dapper weerstand gebied, en daar was groot voorrade oorlogswerktuie en werpspiese. 28Maar hulle het die Heerser aangeroep, wat met krag die mag van sy vyande verbrysel het, en hulle het die stad ingeneem en ongeveer vyf-en-twintigduisend van die inwoners neergevel. 29Nadat hulle kamp opgebreek het, het hulle hulle vandaar na Skitopolis gehaas, wat seshonderd stadion van Jerusalem af was. 30Maar die Judeërs wat daar gewoon het, het getuig van die goedgesindheid wat die mense van Skitopolis teenoor hulle gehad het, en die vriendelike optrede teenoor hulle in moeilike tye. 31Die Judeërs het die inwoners bedank en aangespoor om ook in die toekoms goedgesind teenoor die volk te wees, en het na Jerusalem opgegaan, aangesien die Fees van die Weke naby was.
32Ná hierdie fees, wat ook Pinksterfees genoem word, het hulle opgeruk teen Gorgias, bevelvoerder van Idumea. 33Hy het hulle tegemoet gekom met drieduisend voetsoldate en vierhonderd perderuiters. 34Tydens die geveg het 'n paar Judeërs gesneuwel. 35Een van Bakenor se manne, 'n sekere Dositeus, 'n perderuiter en 'n sterk man, het Gorgias beetgekry, sy mantel gegryp en hom met krag voortgesleep in 'n poging om die vervloekte man lewend gevange te neem; maar een van die Trachiese ruiters het hom aangeval en sy arm afgekap, en Gorgias het na Marisa ontsnap. 36Omdat diegene saam met Esdris vir 'n lang ruk geveg het en uitgeput was, het Judas die Here aangeroep om as bondgenoot te verskyn en die leier in die geveg te wees. 37Hy het in die taal van sy voorvaders die oorlogskreet uitgeroep en lofgesange gesing, en het diegene saam met Gorgias onverwags bestorm en hulle op die vlug laat slaan.
38Judas het toe sy leër byeengebring en na die dorp Odollam gegaan; en omdat die sewende dag op hande was, het hulle hulleself volgens die gebruik gereinig en die Sabbat daar gevier. 39Die volgende dag, toe die tyd aangebreek het, het diegene wat saam met Judas was, gegaan om die liggame van die gesneuweldes saam met hulle terug te bring en met hulle familie in die grafte van hulle voorvaders te begrawe. 40Hulle het onder die onderklede van elkeen van die dooies afgodsbeeldjies van die afgode van Jamnia gevind, wat die Wet die Judeërs verbied het om te dra. Toe het dit vir almal duidelik geword dat hulle om hierdie rede gesneuwel het. 41Almal het daarom die weë van die Here, die regverdige Regter, geloof, wat dinge wat verborge is, openbaar maak. 42Hulle het smeekgebede aangehef en gevra dat die sonde wat gepleeg is, volledig uitgewis sou word. En die edele Judas het die volk vermaan om hulle vry te hou van sonde, want hulle het met hulle eie oë gesien wat gebeur het weens die sonde van die gesneuweldes. 43Ook het hy deur 'n insameling onder al sy manskappe omtrent tweeduisend silwerdragme bymekaargemaak en dit na Jerusalem gestuur om voorsiening te maak vir 'n •reinigingsoffer. Hy het baie goed en edel opgetree, omdat hy aan die opstanding gedink het; 44want as hy nie verwag het die gesneuweldes sou opstaan nie, sou dit nutteloos en dwaas gewees het om vir dooies te bid. 45Maar hy het ook gedink aan die pragtige beloning wat gereed gehou word vir dié wat in vroomheid ontslaap het – 'n heilige en vroom gedagte. Daarom het hy vir die dooies die versoeningsoffer gebring, sodat hulle van hulle sondes vrygespreek kon word.