Oorwinning van Judas oor Lisias
1Lisias, die koning se voog en bloedverwant wat in beheer was van regeringsake, was erg ontevrede oor wat gebeur het, en het baie kort hierna 2omtrent tagtigduisend voetsoldate en al sy perderuiters bymekaargebring en teen die Judeërs opgetrek, want hy was van voorneme om die stad 'n woonplek vir Grieke te maak 3en om die heiligdom skatpligtig te maak, soos die ander heiligdomme van die heidennasies, en om jaarliks die hoëpriesteramp te koop aan te bied. 4Hy het hoegenaamd nie met die krag van God rekening gehou nie, maar was baie ingenome met sy tienduisend voetsoldate, duisende perderuiters en tagtig olifante. 5Hy het Juda binnegeval, en toe hy naby Bet-Sur kom, wat 'n versterkte dorp omtrent vyf stadion van Jerusalem af was, het hy dit onder druk geplaas. 6Toe Makkabeus en diegene saam met hom verneem dat Lisias die vesting beleër, het hulle met geweeklaag en trane saam met die massas die Here gesmeek om 'n goeie engel tot die redding van Israel te stuur. 7Makkabeus self het eerste die wapen opgeneem en die ander ook aangespoor om saam met hom die risiko te loop om hulle broers tot hulp te kom. Hulle het toe gewillig saam opgetrek. 8Terwyl hulle daar naby Jerusalem was, het 'n perderuiter in wit klere, wat goue wapens rondswaai, as hulle aanvoerder verskyn. 9En hulle het almal saam die barmhartige God geprys. Hulle siele is versterk en hulle was gereed om nie net mense nie, maar ook die wildste diere en ystermure te vernietig. 10Hulle het in slagorde vorentoe beweeg saam met die bondgenoot uit die hemel, omdat die Here Hom oor hulle ontferm het. 11Soos leeus het hulle op die vyand afgestorm en van hulle elfduisend voetsoldate en eenduisend seshonderd perderuiters neergevel, en al die ander gedwing om te vlug. 12Die meeste van hulle het verwond en kaalgestroop ontvlug, en Lisias self het ontsnap deur in skande te vlug.
13Maar hy was nie dom nie, en het nagedink oor die neerlaag wat oor hom gekom het en besef dat die Hebreërs onoorwinlik is, omdat die magtige God saam met hulle geveg het. 14Hy het toe 'n boodskap gestuur en hulle oorreed om oor alle regverdige voorwaardes tot 'n vergelyk te kom, en dat hy daarom ook by die koning sou aandring om hulle vriend te wees. 15Gedagtig aan die voordele daaraan verbonde, het Makkabeus tot alles ingestem wat Lisias versoek het, want die koning het ingestem tot alles wat Makkabeus in briewe aan Lisias met betrekking tot die Judeërs voorgelê het.
16Die brief wat Lisias aan die menigte Judeërs geskryf het, het die volgende strekking:
“Lisias
aan die Judeërs:
Gegroet!
17“Johannes en Absalom, wat deur julle gestuur is, het die ondertekende dokument oorhandig en 'n antwoord gevra in verband met die sake wat deur hom aangedui word. 18Ek het die koning oor alles ingelig wat onder sy aandag gebring moes word, en hy het tot alles wat moontlik was, ingestem. 19As julle dan julle goedgesindheid teenoor die regering behou, sal ek in die toekoms probeer om julle welsyn te bevorder. 20Wat hierdie dinge en die besonderhede daarvan betref, het ek aan hierdie mense, sowel as aan my afgevaardigdes, opdrag gegee om dit met julle te bespreek.
21“Laat dit met julle goed gaan. Die vier-en-twintigste Dioskorintius van die jaar eenhonderd agt-en-veertig.”
22Die brief van die koning het soos volg gelui:
“Koning Antiogus
aan sy broer Lisias:
Gegroet!
23“Noudat ons vader na die gode oorgegaan het, wil ons hê dat die onderdane van die koninkryk ongehinderd aan hulle eie sake aandag gee. 24Ons het gehoor dat die Judeërs nie die afdwing van Griekse gewoontes deur ons vader goedkeur nie, maar hulle eie leefwyse verkies en vra om toegelaat te word om hulle voorskrifte te volg. 25Omdat ons ook wil hê dat hierdie volk vry van inmenging moet wees, is ons van oordeel dat die •tempel aan hulle teruggegee word en dat hulle volgens die gewoontes van hulle voorvaders moet leef. 26Dit sal dan goed wees as julle 'n boodskap na hulle sal stuur en hulle die regterhand reik, sodat hulle ons beleid kan ken en vol vreugde kan wees en gelukkig kan voortgaan om hulle eie sake te reël.”
27Aan die volk het die koning se brief soos volg gelui:
“Koning Antiogus
stuur groete
aan die Raad van Oudstes van die Judeërs en die ander Judeërs.
28“As dit met julle goed gaan, sou dit wees soos ons dit wil hê. Ons self is ook gesond. 29Menelaus het ons meegedeel dat julle huis toe wil gaan om aan julle eie sake aandag te gee. 30Vir dié wat dan tot die dertigste Xantikus terugkeer huis toe, sal daar 'n regterhand van vriendskap en amnestie wees, 31sodat die Judeërs net soos voorheen volgens hulle eie gebruike en voorskrifte mag leef, en niemand van hulle op enige wyse lastig geval word oor dinge wat in onkunde gedoen is nie. 32Ek het ook vir Menelaus gestuur om julle te bemoedig.
33“Laat dit met julle goed gaan. Die vyftiende Xantikus van die jaar eenhonderd agt-en-veertig.”
34Die Romeine het ook 'n brief aan hulle gestuur wat soos volg gelui het:
“Quintus Memmius en Titus Manius, ambassadeurs van die Romeine,
aan die Judese volk:
Gegroet!
35“Aan die dinge wat Lisias, die bloedverwant van die koning, julle toegestaan het, gee ons ook ons goedkeuring. 36En aangaande die sake wat hy besluit het aan die koning voorgelê moet word – wanneer julle dit oorweeg het, moet julle onmiddellik iemand na ons stuur, sodat ons aan die koning kan voorlê wat vir julle aanvaarbaar is, want ons is op pad na Antiogië. 37Maak dus gou en stuur iemand, sodat ons ook kan weet wat julle mening is.
38“Alles van die beste. Die vyftiende Xantikus van die jaar eenhonderd agt-en-veertig.”