Herinname van Jerusalem
1Makkabeus en diegene saam met hom het onder leiding van die Here weer die •tempel en die stad in besit geneem. 2Hulle het die altare wat deur die vreemdelinge op die markplek opgerig is, en ook die heiligdomme afgebreek, 3en nadat hulle die tempel gereinig het, het hulle 'n ander altaar gebou. Hulle het vuur uit vuurklippe geslaan, die vuur gevat en vir die eerste keer in twee jaar weer offers gebring. Hulle het reukwerk laat brand, lampe aangesteek en die •vertoonbrode uitgeplaas. 4Nadat hulle dit gedoen het, het hulle op hulle mae neergeval en die Here gesmeek dat hulle nooit weer sulke rampe sou oorkom nie, maar as hulle ooit weer sondig, hulle met deernis deur Hom getugtig sal word en nie aan lasterlike en barbaarse heidennasies uitgelewer word nie. 5En op die dag dat die tempel deur vreemdelinge ontheilig is, op daardie selfde dag, het die reiniging van die tempel plaasgevind, op die vyf-en-twintigste van dieselfde maand, wat die maand •Kislef is. 6Hulle het agt dae lank met vrolikheid feesgevier soos met die Huttefees, en onthou hoe hulle kort tevore gedurende die Huttefees soos wilde diere in die berge en grotte geëet het. 7Daarom het hulle seremoniële stawwe wat met loof versier was, en pragtige lote en ook nog palmtakke gedra en lofgesange gesing vir Hom wat suksesvol was in die reiniging van sy eie tempel. 8Hulle het deur 'n openbare dekreet en stemming die hele Joodse volk verplig om jaarliks hierdie dae te vier.
9So het Antiogus, wat ook Epifanes genoem is, aan sy einde gekom.
Oorwinning van Judas oor die Idumeërs
10Nou sal ons vertel wat onder Antiogus Eupator, die seun van die goddelose man, gebeur het, en kortliks 'n opsomming gee van die oorlogsrampe. 11Hy het, nadat hy die koningskap oorgeneem het, 'n sekere Lisias, die hoofgoewerneur van Koile-Sirië en Fenisië, as hoof van regeringsake aangestel. 12Ptolomeus, wat Makron genoem word, het die leiding geneem om regverdig teenoor die Judeërs op te tree en het weens die onreg wat hulle aangedoen is, probeer om vreedsame verhoudinge met hulle te handhaaf. 13Gevolglik is hy deur die Vriende by Eupator aangekla, en het hy by elke geleentheid gehoor hy is 'n verraaier, omdat hy Ciprus, wat deur Filometer aan hom toevertrou is, verlaat het en na Antiogus Epifanes oorgeloop het. Omdat hy nie sy amp op 'n eerbare wyse kon beoefen nie, het hy homself vergiftig en gesterf. 14Toe Georgias die bevelvoerder van die gebied geword het, het hy huursoldate in diens geneem en by elke geleentheid oorlog teen die Judeërs bly voer. 15Hierbenewens het ook die Idumeërs, wat in beheer van strategiese vestings was, die Judeërs lastig geval. Hulle het die vlugtelinge uit Jerusalem by hulle opgeneem en probeer om die oorlog voort te sit. 16Maar Makkabeus en sy manne het God met smeekgebede versoek om hulle bondgenoot te wees en toe die vestings van die Idumeërs bestorm. 17Hulle het hulle met mening aangeval en in beheer gekom van die vestings. Hulle het dié wat op die muur geveg het, afgegooi en almal wat hulle teëgekom het, doodgemaak. Hulle het nie minder nie as twintigduisend gedood. 18Nie minder nie as negeduisend het in twee baie sterk torings skuiling gesoek wat ten volle toegerus was vir 'n beleg. 19Makkabeus het vir Simon en Josef agtergelaat, asook vir Saggeus en diegene saam met hom, wat genoeg was om die torings te beleër, en het self na plekke vertrek wat dringende aandag verdien het. 20Maar diegene saam met Simon was geldgierig en is deur sommige van dié in die torings omgekoop, en nadat hulle sewentigduisend dragme ontvang het, het hulle 'n aantal toegelaat om deur te glip. 21Toe dit aan Makkabeus berig is, het hy die leiers van die volk bymekaargebring en die manne daarvan beskuldig dat hulle hulle broers vir geld verkoop het, deurdat hulle die vyand laat vrykom het om teen hulle te veg. 22Hy het toe dié wat verraaiers geword het, doodgemaak en onmiddellik die twee torings ingeneem. 23Omdat hy altyd suksesvol was wanneer hy die wapen opgeneem het, het hy meer as twintigduisend in die twee vestings gedood.
24Timoteus, wat vroeër deur die Judeërs verslaan is, het 'n groot leërmag huursoldate versamel, en geen geringe aantal perderuiters nie – uit Asië afkomstig – bymekaargebring en gekom om Juda in te neem. 25Terwyl hy nader kom, het Makkabeus en diegene saam met hom stof op hulle koppe gestrooi en hulle heupe met rouklere omgord en God gesmeek. 26Hulle het op die voetstuk voor die altaar neergeval en Hom gesmeek om hulle genadig te wees en 'n vyand vir hulle vyande te wees en 'n teenstander vir hulle teenstanders, soos wat die Wet dit duidelik maak. 27Nadat hulle gebid het, het hulle hulle wapens opgeneem en redelik ver van die stad af wegbeweeg. Toe hulle naby die vyand kom, het hulle gestop. 28Net toe die dag breek, het albei leërs tot die aanval oorgegaan. Die een groep het nie net hulle dapperheid nie, maar ook hulle vertroue op die Here as waarborg vir sukses en oorwinning gehad. Die ander groep, daarenteen, het hulle bloot deur woede in die geveg laat lei. 29Toe die geveg hewig geword het, het daar vyf glansende manne op perde met goue teuels uit die hemel aan die vyand verskyn, en hulle het die Judeërs van voor af gelei. 30Hulle het Makkabeus omring en met hulle eie wapenrusting beskerm en bewaak sodat hy nie gewond is nie, en het aanmekaar pyle en bliksemstrale op die vyand gewerp, met die gevolg dat hulle in volslae verwarring verblind was en uitmekaar gejaag is. 31Twintigduisend vyfhonderd voetsoldate en seshonderd perderuiters is afgemaai. 32Timoteus self het na 'n vesting met die naam Geser, 'n baie sterk fort waar Gaireas bevelvoerder was, gevlug. 33Diegene saam met Makkabeus was bly en het die fort vier dae lank beleër. 34Diegene aan die binnekant het staatgemaak op die sterkte van die plek, en het vreeslik gelaster en goddelose woorde geuiter. 35Maar met die aanbreek van die vyfde dag het twintig jong manne saam met Makkabeus, aangevuur deur woede oor die godslastering, die muur heldhaftig bestorm en met dierlike woede elkeen wat hulle teëgekom het, afgemaai. 36Ander het op dieselfde wyse met 'n omsingelende beweging opgegaan teen diegene aan die binnekant en die torings aan die brand gesteek, vure aangesteek, en die lasteraars lewendig verbrand. Ander het die hekke oopgebreek, en nadat hulle die res van die leërmag ingelaat het, het hulle die stad ingeneem. 37En hulle het vir Timoteus, wat in 'n put geskuil het, saam met sy broer Gaireas en Apollofanes, vermoor. 38Nadat hulle hierdie dinge gedoen het, het hulle die Here met lofgesange en dankliedere geloof, wat groot weldade aan Israel bewys het en aan hulle die oorwinning gegee het.