1Van Dawid.
Voer 'n regstryd, Here,
teen dié wat my aankla,
veg teen dié wat met my veg.
2Neem 'n klein- en 'n grootskild,
en staan op om my te help.
3Trek die spies en lans uit,
om my vervolgers tegemoet te gaan.
Sê vir my: “Ek is jou verlossing!”
4Laat hulle wat my lewe soek,
beskaamd en verneder staan,
laat hulle wat kwaad teen my beplan,
terugdeins en verleë staan.
5Laat hulle soos kaf
voor die wind wees,
terwyl die •Engel van die Here
hulle wegvee.
6Laat hulle pad donker
en glibberig wees,
terwyl die Engel van die Here
hulle agtervolg.
7Hulle het immers sonder rede
in die geheim vir my
hulle vangnet gespan,
sonder rede vir my
'n vanggat gegrawe.
8Laat teenspoed oor hulle kom
sonder dat hulle dit weet,
en die net wat hulle gespan het –
laat dit hulle vang.
Deur teenspoed moet hulle daarin val.
9Ek sal dan juig in die Here,
ek sal jubel oor sy verlossing.
10My hele wese sal sê:
“Here, wie is soos U,
wat die magtelose red
van dié wat sterker as hy is,
ja, die magtelose en behoeftige
van dié wat hom beroof?”
11Gewelddadige getuies staan op,
oor iets waarvan ek niks weet nie,
ondervra hulle my.
12Hulle vergeld my met kwaad
vir goed;
ek is stoksielalleen.
13Maar ek het, toe hulle siek was,
rouklere aangetrek;
ek het myself gefolter deur te vas.
Toe my gebed na my teruggekeer het,
14was ek rusteloos
asof dit 'n vriend, my •broer, was.
Soos iemand wat oor 'n moeder treur,
was ek geboë en in rouklere.
15Maar toe ek struikel, was hulle
verheug en het saamgedrom;
aanvallers het teen my
saamgedrom sonder
dat ek dit besef,
hulle het my sonder ophou
uitmekaargeskeur.
16Hulle toets my,
hulle spot my met minagting,
hulle kners op hulle tande vir my.
17My Heer, hoe lank gaan U toekyk?
Red my lewe van hulle vernietiging,
my enigste lewe van die jong leeus.
18Dan sal ek U prys
in 'n groot vergadering,
tussen 'n menigte mense sal ek U loof.
19Laat my vyande hulle nie valslik
oor my verheug nie,
laat hulle wat my sonder rede haat,
nie met die oog knik nie;
20want dit is nie vrede
waaroor hulle praat nie.
Teen die mense wat stil is in die land
versin hulle woorde van bedrog.
21Ja, hulle rek hulle monde wyd
oor my;
hulle sê: “Aha! Aha!
Ons het dit self gesien!”
22U het dit tog gesien, Here,
moet tog nie stilbly nie,
my Heer, moenie ver van my af
bly nie!
23Word wakker! Staan op
vir my regte, vir my verdediging,
my God en my Heer.
24Handhaaf my reg volgens u reg,
Here, my God,
laat hulle nie oor my bly wees nie.
25Laat hulle nie in hulle hart sê,
“Aha, net wat ons wou hê!” nie.
Laat hulle nie sê,
“Ons het hom verslind!” nie.
26Laat dié wat hulle
oor my teenspoed verbly,
almal saam beskaamd
en verleë staan;
laat skaamte en vernedering
hulle soos klere bedek,
dié wat hulle teen my groot hou.
27Mag dié wat graag wil hê dat reg
aan my geskied, juig en bly wees
en mag hulle aanhoudend sê:
“Groot is die Here, wat vrede
vir sy dienskneg begeer!”
28My tong sal dan mymerend
bly prewel oor u geregtigheid,
die hele dag lank oor die lof
wat U toekom.