1'n Gebed. Van 'n magtelose wanneer hy kragteloos is en sy klag voor die Here uitstort.
2Here, hoor tog my gebed!
Laat my hulpkreet U bereik!
3Moet tog nie u gesig vir my verberg
in my tyd van nood nie.
Draai u oor na my in die tyd
wanneer ek roep;
antwoord my gou!
4Want my dae eindig in rook,
my gebeente word verskroei
asof in 'n vuurherd.
5My hart is platgeslaan
en verdor soos onkruid,
ja, ek vergeet om my brood te eet.
6Vanweë my harde gekla
is ek net vel en been.
7Ek is soos 'n bontkraai in die woestyn;
ek het geword soos 'n naguiltjie
op puinhope.
8Ek lê wakker;
ek het geword soos 'n eensame voël
op 'n dak.
9Die hele dag dryf my vyande
die spot met my;
dié wat met my die gek skeer,
gebruik my naam in verwensings.
10Want stof eet ek soos brood,
en wat ek drink, meng ek met trane,
11vanweë u vervloeking en u grimmigheid;
ja, U het my opgetel en neergegooi.
12My dae is soos 'n skaduwee
wat lank word,
en ek, soos onkruid verdroog ek.
13Maar U, Here, U heers vir ewig;
u gevierde Naam duur
van geslag tot geslag.
14U self sal opstaan,
U oor Sion ontferm,
want dit is tyd om haar
genadig te wees;
ja, die aangewese tyd het gekom.
15Haar klippe is immers kosbaar
vir u diensknegte,
hulle is begaan oor haar puin.
16Nasies sal ontsag hê
vir die Naam van die Here,
en al die konings van die aarde
vir u majesteit,
17wanneer die Here Sion herbou
en Hy in sy majesteit verskyn.
18Hy sal Hom wend na die gebed
van die brandarmes;
Hy sal hulle gebed nie minag nie.
19Dit moet neergeskryf word
vir 'n volgende geslag,
sodat die volk wat geskep word,
die Here sal loof met die woorde:
20“Die Here het afgekyk
uit sy hoë heiligdom;
uit die hemel het Hy die aarde beskou,
21om die gesug van gevangenes
te hoor,
om dié wat gedoem was
tot die dood, te bevry,
22om in Sion die Naam
van die Here te verkondig
en sy lof in Jerusalem,
23wanneer volke byeenkom,
ja, koninkryke, om die Here te dien.”
24Hy het op die lewenspad
my krag gebreek,
Hy het my dae kortgeknip.
25Ek sê:
“My God, moet my
nie wegneem teen die helfte
van my lewensdae nie.
Van geslag tot geslag duur u jare.
26Voor alle tye het U
die aarde gevestig;
die hemel is die werk van u hande.
27Hulle sal vergaan,
maar U bly bestaan.
Soos 'n kledingstuk
sal hulle almal verslyt;
soos 'n bokleed vervang U hulle,
en hulle verdwyn.
28Maar U bly dieselfde,
u jare sal nie tot 'n einde kom nie.”
29Die kinders van u diensknegte
sal hier bly woon,
hulle nageslag sal gevestig wees
in u teenwoordigheid.