1Van Dawid.
Loof die Here, o my siel,
ja, alles wat in my is,
sy heilige Naam!
2Loof die Here, o my siel,
en moenie enige van sy weldade
vergeet nie –
3Hy wat al jou sondeskuld vergewe,
wat al jou siektes genees,
4wat jou lewe vrykoop van die graf,
jou kroon met troue liefde
en ontferming,
5wat jou begeerte
met die goeie versadig.
Soos 'n arend word jou jeug
dan weer nuut.
6Die Here handhaaf geregtigheid,
die regte van almal wat verdruk word.
7Hy het sy weë aan Moses geopenbaar,
aan die Israeliete sy dade.
8Barmhartig en genadig is die Here,
geduldig en oorvloedig
in troue liefde;
9Hy beskuldig nie vir ewig nie,
en bly nie vir altyd toornig nie.
10Hy behandel ons nie ooreenkomstig
ons sonde nie
en vergeld ons nie ooreenkomstig
ons sondeskuld nie;
11want so hoog as wat die hemel
bo die aarde is,
so troon sy troue liefde uit bo dié
wat vir Hom ontsag het.
12So ver as wat die ooste verwyder
is van die weste,
so ver verwyder Hy ons oortredings
van ons.
13Soos 'n vader hom ontferm
oor kinders,
so ontferm die Here Hom
oor dié wat vir Hom ontsag het;
14want Hy, Hy weet waarvan
ons gemaak is,
Hy hou in gedagte dat ons
maar stof is.
15'n Mens, soos gras is sy lewensdae,
soos 'n veldblom, so bloei hy.
16As die wind oor hom waai,
is hy nie meer daar nie
en sy plek ken hom nie meer nie.
17Maar die troue liefde van die Here
is van altyd af en vir ewig oor hulle
wat vir Hom ontsag het,
en sy geregtigheid geld
vir die kinders se kinders,
18vir hulle wat sy verbond hou,
en vir hulle wat sy opdragte
in gedagte hou, om dit uit te voer.
19Die Here het in die hemel
sy troon gevestig,
en sy heerskappy strek oor alles.
20Prys die Here,
julle wat sy boodskappers is,
sterk helde wat sy woord uitvoer
deur sy bevel te gehoorsaam.
21Loof die Here, al sy hemelse magte,
sy dienaars wat sy wil volbring.
22Loof die Here,
alles wat Hy gemaak het,
op al die plekke waar Hy heers!
Loof die Here, o my siel!