Job 25
Bildad se derde betoog
1Bildad uit Suag het hierop gereageer en gesê:
2“Om te heers en vrees in te boesem,
is eie aan God,
Hy wat vrede handhaaf in sy hoë hemele.
3Kan die getal van sy troepe vasgestel word?
Oor wie gaan sy lig nie op nie?
4Hoe kan 'n sterfling
dan regverdig wees voor God?
Hoe kan iemand uit 'n vrou gebore,
rein wees?
5Kyk, in sy oë is selfs
die maan nie helder
en die sterre nie rein nie,
6hoeveel minder nog 'n sterfling,
'n maaier, 'n mensekind, 'n wurm!”
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met hoofletters © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.