1“Waarom word vaste tye
nie opsy gesit
deur die Almagtige nie,
en waarom sien dié wat Hom ken,
nooit sy dae nie?
2Mense verskuif grense,
hulle buit troppe vee en laat dit wei.
3Hulle jaag die donkie
van vaderlose kinders weg,
en neem die bees van 'n weduwee as pand.
4Hulle druk behoeftiges van die pad af;
saam skuil magteloses van die land.
5Kyk, soos wildedonkies in die woestyn
trek hulle uit vir hulle
daaglikse werk –
op soek na iets te ete.
Die Araba voorsien kos
vir hulle en hulle kinders.
6In die veld maak hulle voer bymekaar;
in die wingerde van goddeloses
maak hulle die naoes bymekaar.
7Halfkaal bring hulle
die nag deur, sonder 'n bokleed,
met geen bedekking teen die koue nie.
8Hulle is deurnat van die reën in die berge,
en staan styf teen 'n rots aangedruk,
sonder skuilplek.
9'n Vaderlose kind word
van die bors weggeskeur;
wat aan die magtelose is,
word as pand geneem.
10Halfkaal loop hulle rond,
sonder bokleed;
honger, dra hulle gerwe.
11Tussen goddeloses se terrasmure
pars hulle olywe;
hulle trap parskuipe,
terwyl hulle dors ly.
12In die stad kreun sterwendes,
die kele van gewondes roep om hulp;
maar God slaan nie ag
op die ongerymdheid nie.
13“Daar is dié wat in opstand is teen die Lig;
hulle erken nie sy weë nie,
hulle is nie tuis op sy paaie nie.
14Teen ligdag
staan die moordenaar op;
hy maak magteloses en behoeftiges
dood,
en snags is hy soos 'n dief.
15Die egbreker hou die skemer
in die oog en sê,
‘Geen oog sal my sien nie’;
en dan plaas hy 'n bedekking oor sy gesig.
16Hulle breek in die donker by huise in.
Bedags sluit hulle hulleself toe,
hulle ken die lig nie.
17Ja, vir hulle almal saam
is stikdonkerte soos die môrelig;
hulle is immers vertroud
met die verskrikkinge
van 'n stikdonker nag.
18“Mag hulle vinnig wegdryf op die water!
Mag hulle erfdeel in die land
in 'n vervloeking gebruik word;
mag hulle nie in die rigting
van die wingerde gaan nie.
19Droë grond en hitte
raap sneeuwater weg,
net soos die •doderyk
hulle wat gesondig het.
20Mag die moederskoot hulle vergeet;
mag die maaiers hulle soet vind;
mag hulle nie meer onthou word nie.
Mag die onreg soos 'n stuk hout gebreek word –
21hulle wat 'n onvrugbare
sonder kinders kaal stroop,
aan 'n weduwee niks goeds doen nie.
22God sal die magtiges wegsleep deur sy krag.
Al staan hulle op,
is hulle lewens nie seker nie.
23Hy gee aan hulle veiligheid,
en daarop steun hulle;
maar sy oë hou hulle paaie dop.
24Vir 'n kort rukkie
verhef hulle hulleself,
maar dan is hulle nie meer daar nie.
Hulle sink neer soos alle dinge,
en word bymekaargemaak;
soos die hoogste koringaar
word hulle afgesny.
25As dit nie so is nie,
wie sal my tot leuenaar maak,
en my woorde as niksseggend afmaak?”