Job se antwoord op Elifas se derde betoog
1Job het hierop gereageer en gesê:
2“Ook vandag is my klag rebels;
sy hand is swaar,
ten spyte van my gesug.
3Ag, as ek maar geweet het
waar ek Hom kon vind,
as ek maar tot by
sy vaste woonplek kon kom!
4Ek sou die saak voor Hom uiteensit;
my mond sou ek vul met pleitredes.
5Ek sou kennis neem van die woorde
waarmee Hy teen my getuig;
ek sou begryp wat Hy vir my sê.
6Sou Hy met groot krag
'n regstryd teen my voer?
Nee, maar Hy sal aan my
aandag gee.
7'n Opregte sou daar
met Hom redeneer;
en ek sou vir altyd ontkom
aan my regter.
8Kyk, gaan ek oos, is Hy nie daar nie,
en wes, dan gewaar ek Hom nie.
9In die noorde, terwyl Hy werk,
merk ek Hom nie op nie;
verhul Hy Hom in die suide,
sien ek Hom nie raak nie.
10Ja, Hy ken die pad waarop ek gaan;
as Hy my toets –
soos goud sal ek daar uitkom.
11In sy spoor het my voete gebly;
by sy pad het ek gehou,
en nie afgedraai nie.
12Die opdrag van sy lippe –
daaraan het ek my nie onttrek nie;
in die vou van my kleed
het ek die woorde uit sy mond
in bewaring gehou.
13“Maar Hy is uniek –
wie kan Hom teengaan?
Wat Hy graag wil doen,
dit voer Hy uit.
14Ja, Hy sal wat vir my bestem is, volbring.
Hy het baie dinge soos hierdie in gedagte.
15Daarom staan ek verbysterd voor Hom;
as ek daaroor nadink, vrees ek Hom.
16Dit is God wat my swak van hart maak;
dit is die Almagtige wat my verbysterd laat.
17Ja, ek word nie stilgemaak
deur die donker nie,
deur die feit dat ek self
deur diepe duisternis omhul word nie.