1Here, U is my God.
Ek verheerlik U, ek prys u Naam;
want U het wonders gedoen –
planne uit die verre verlede
bestendig en betroubaar uitgevoer.
2Ja, U het van 'n stad 'n kliphoop,
van 'n versterkte stad
'n vervalle plek gemaak.
Die vesting van vreemdes
is nie meer 'n stad nie;
dit sal nooit herbou word nie.
3Daarom sal 'n sterk volk U eer,
'n stad van magtige nasies
sal U vrees.
4Ja, U was 'n toevlug vir armes,
'n toevlug vir behoeftiges
in hulle nood,
'n skuilplek teen stortreën,
'n skaduwee teen hitte.
Want die asem van geweldenaars
is soos stortreën teen 'n muur,
5soos hitte in 'n dor streek.
U doof die rumoer van vreemdes uit;
soos hitte in die skadu van 'n wolk,
word die lied van geweldenaars gedemp.
6Die Here, Heerser oor alle magte,
sal op hierdie berg vir al die volke
'n feesmaal van ryk geregte voorberei,
'n feesmaal met beleë wyn,
met ryk geregte vol murg,
met gesuiwerde, beleë wyn.
7Op hierdie berg sal Hy
die sluier verswelg,
die sluier oor al die volke,
die geweefde bedekking
oor al die nasies.
8Hy sal die dood vir ewig verswelg;
my Heer, die Here,
sal die trane van alle gesigte afvee.
Die bespotting van sy volk
sal Hy van die hele aarde af
verwyder.
Ja, die Here het gespreek.
9Hulle sal op daardie dag sê:
“Kyk, dit is ons God
op wie ons gewag het,
en Hy het ons gered;
dit is die Here op wie
ons gewag het!
Laat ons juig en bly wees
oor sy redding.”
10Ja, die hand van die Here
rus op hierdie berg;
maar Moab word daar waar hy is,
vertrap,
soos strooi vertrap word
in 'n mishoop.
11Moab sal sy hande uitstrek
in die strooi,
soos 'n swemmer sy hande
uitstrek om te swem.
Maar die Here sal sy hoogmoed
in vernedering verander,
ondanks die vaardigheid
van sy hande.
12Die versterkte stad,
die toevlugsoord van jou stadsmure,
laat Hy tuimel, haal Hy neer,
gooi Hy neer op die grond,
tot in die stof.