Oordeel van die Here
1Kyk, die Here gaan die land
kaal stroop en dit verniel;
Hy gaan sy oppervlakte skend,
sy inwoners uitmekaar jaag.
2Dit sal met priesters gaan
soos met die volk,
met hulle eienaars
soos met slawe,
met hulle eienaresse
soos met slavinne,
met verkopers
soos met kopers,
met leners
soos met uitleners,
met skuldenaars
soos met geldskieters.
3Die land word heeltemal
kaal gestroop,
volledig geplunder.
Ja, die Here,
Hy het hierdie uitspraak gemaak.
4Die aarde verdroog,
dit verskrompel;
die bewoonde wêreld kwyn weg,
dit verskrompel.
Die vername mense van die aarde
kwyn weg.
5Die aarde lê besoedel
onder sy inwoners:
Hulle het wette oortree,
vaste voorskrifte die rug toegekeer,
'n ewige verbond verbreek.
6Daarom verteer 'n vloek die aarde,
en boet dié wat daarop woon.
Daarom word die bewoners
van die aarde minder,
en bly daar weinig sterflinge oor.
7Die •nuwe wyn het opgeraak,
wingerde kwyn weg,
almal wat vrolik van hart was, sug.
8Die vreugde van die tamboeryn
het opgehou,
die gejoel van uitgelate mense
het tot 'n einde gekom,
die vreugde van die lier
het opgehou.
9Geen lied meer wanneer wyn
gedrink word nie –
sterk drank is bitter
vir wie dit drink.
10Die leë stad lê verbreek –
elke huis geslote, ontoeganklik.
11Daar is 'n gejammer
oor wyn in die strate;
alle blydskap het weggesink,
verban is die vreugde van die land.
12Wat in die stad oor is,
is 'n skrikbeeld;
tot 'n murasie is die stadspoort
verpletter.
13Ja, so sal dit midde-in die land
tussen die volke wees –
soos met die afslaan van olywe,
soos met oesreste
as die druiweoes verby is.
14Dit is hulle wat hardop sal jubel.
Oor die verhewenheid van die Here
sal hulle uitroep uit die weste.
15Daarom, vereer die Here
in die land van die môrelig!
Vereer in die eilande van die weste
die Naam van die Here,
die God van Israel.
16Van die uithoeke van die aarde af
hoor ons liedere –
'n sieraad vir die Regverdige.
Maar ek sê: “Dit is klaar met my!
Dit is klaar met my!
Wee my!”
Verraderlike mense is ontrou;
verraderlike mense pleeg verraad.
17Verskrikking, 'n vanggat,
'n vangnet wag op julle,
bewoners van die aarde.
18Wie vlug vir die geluid
van verskrikking,
val in die vanggat;
wie uitklim uit die vanggat,
word gevang in die vangnet.
Want vensters in die hemel
is oopgemaak,
die fondamente van die aarde bewe.
19Al krakend bars
die aarde uitmekaar,
al waggelend wankel die aarde,
steierend slinger die aarde
heen en weer.
20Onvas steier die aarde
soos 'n dronke,
ruk heen en weer
soos 'n takskerm.
Sy oortreding rus swaar op hom;
hy val en staan nie weer op nie.
21Op daardie dag
sal die Here afreken,
in die hemel, met die hemelliggame,
op die aarde, met die konings van die aarde.
22Hulle sal byeengebring word
vir opsluiting,
as gevangenes in 'n put –
toegesluit in 'n kerker.
Ná 'n lang tyd sal met hulle
afgereken word.
23Die volmaan sal verleë wees,
die helder son sal beskaamd staan.
Want die Here, Heerser oor alle magte,
regeer op die berg Sion
en in Jerusalem,
en voor sy oudstes in heerlikheid.