1Op daardie dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda:
“Ons het 'n sterk stad;
God se redding is die stadsmure
en verdedigingswal.
2Maak oop die poorte,
sodat 'n regverdige nasie kan ingaan,
hulle wat getrou bly!
3'n Standvastige gesindheid
sal U in volkome vrede bewaar,
omdat daar op U vertrou word.
4Vertrou te alle tye op die Here,
want die Here, die Here
is 'n ewige rots.
5Ja, dié wat hoog woon,
die ontoeganklike stad,
laat Hy tuimel.
Hy haal haar neer,
Hy haal haar tot die grond toe neer –
Hy gooi haar neer tot in die stof.
6Voete vertrap haar,
die voete van magteloses,
die treë van armes.”
7Die paaie van regverdiges
is gelyk;
reguit is die weë van regverdiges
wat U vir hulle skoonmaak.
8Selfs op die pad van u oordele,
Here, het ons op U gewag.
U Naam, u gevierde Naam,
was ons hartsverlange.
9Met my hele wese
smag ek na U in die nag,
ja, my gees in my binneste
soek na U.
Want wanneer u oordele
die aarde tref,
leer die bewoners
van die wêreld wat reg is.
10Wanneer genade aan goddeloses
bewys word,
leer hulle nie wat reg is nie.
In 'n land waar opregtheid heers,
pleeg hulle onreg;
die verhewenheid van die Here
sien hulle nie raak nie.
11Here, dat u hand opgehef is,
merk hulle nie op nie.
Die ywer vir u volk –
laat hulle dit opmerk
en beskaamd staan.
Laat ook die vuur,
bestem vir u vyande,
hulle verteer.
12Here, U beskik vir ons vrede;
ja, ook alles wat ons vermag het,
het U vir ons bewerk.
13Here, ons God,
ander here as U
het oor ons regeer.
Alleen deur u toedoen
bely ons u Naam.
14Dooies kan nie leef nie,
skimme kan nie opstaan nie;
daarom het U rekenskap geëis,
hulle uitgedelg.
Alle herinnering aan hulle
het U uitgewis.
15U het die nasie vermeerder, Here,
U het die nasie vermeerder,
U het Uself verheerlik.
U het alle grense van die land
uitgebrei.
16Here, in nood het hulle
U opgesoek;
hulle was benoud vanweë
die fluistering dat u tugtiging
vir hulle bedoel is.
17Soos 'n swanger vrou
wat op die punt is
om geboorte te gee,
ineenkrimp en uitroep
in haar geboortepyne,
so was ons vanweë
u teenwoordigheid, Here.
18Ons was swanger,
het ineengekrimp,
maar dit was asof ons aan wind
geboorte geskenk het.
Redding kon ons nie vir die land
bewerk nie,
die bewoners van die wêreld
het nie geval nie.
19Jou dooies sal leef, Israel;
hulle lyke sal opstaan.
Word wakker en jubel,
julle wat in die stof woon!
Want u dou is 'n hemelse dou,
en die aarde sal aan skimme
geboorte gee.
20Gaan, my volk,
gaan in jou binnekamers in,
en sluit jou deure agter jou toe!
Kruip 'n kort rukkie weg,
totdat die vervloeking
verbygegaan het!
21Want kyk, die Here
gaan uit sy woonplek kom
om van die bewoners van die aarde
rekenskap te eis oor sondeskuld.
Die grond sal die bloed daarop onthul,
en nie langer hulle wat daarop
gedood is, bedek nie.