Bible Society of South Africa
Danny Fourie

Wie is hierdie Man? – Dag 9

Kind onder kinders

Bybelteks(te)

40Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

Jesus het sterker en wyser geword en God self het Hom met wysheid gevul en met sy genade gelei. ʼn Mens kan sonder meer hieroor heen lees, maar dit sê iets van die groeiproses wat die jong Jesus deurgemaak het. In sy jong jare is Jesus vir sy werk of bediening voorberei. Hy het krag gekry om die geweldige swaar taak te kon vervul. Wat dink jy? Het Jesus al in die wieg geweet dat Hy die Verlosser was? Jesus het soos elke kind Homself steeds beter leer ken. Hy het begin begryp dat Hy nie soos al die ander kinders was nie.

Jesus het steeds meer lewenskennis opgedoen. Hy het geliefd geword en respek by mense afgedwing. Hy het aansien onder hulle gekry.

Op hierdie manier kom Jesus in die tempel en die geleerdes was verbaas oor sy slim vrae. Hy het Hom so ingeleef in die oomblik dat Hy skoon van die tyd vergeet het. Sy ouers was al lankal op pad terug huis toe. Hulle het gedink dat hy iewers in die groep mense by sy maats loop. Die meeste van die tyd het Hy heel bedag altyd kom sê waar Hy is, maar hierdie keer nie. Hulle het ongerus geraak. Waar was Hy? Uiters bekommerd is hulle terug Jerusalem toe waar hulle Hom in die tempel gekry het. “Waarom het julle My gesoek?” het Jesus gevra. Wat ʼn vraag? “Jy is tog ons kind!” Toe sê Hy dat Hy met die dinge van sy Vader besig was. Hiervan het Josef en Maria niks begryp nie. Was Jesus in daardie stadium so gewoon dat hulle vergeet het wie Hy is? Dis amper soos ʼn raaisel: Hoe meer Ek met die dinge van my Vader besig is, hoe meer sal julle My mis.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS