Bible Society of South Africa
Danny Fourie

Wie is hierdie Man? – Dag 10

Jesus begin

Bybelteks(te)

3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.”

4Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.”

JOHANNES 2:3-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

ʼn Joodse bruilof is ʼn gesellige ding. Dit is nie soos die meeste bruiloffeeste hier by ons nie: meestal in ʼn stywe pak klere, lang tafels en lang toesprake. Die Jode vier sommer ʼn hele week fees. Met so ʼn fees begin Johannes sy verslag oor Jesus se werk op aarde. Johannes sê op die laaste bladsye van die Bybel dat die geskiedenis ook met ʼn bruilof sal eindig.

Op die bruilof waar Jesus was, het ʼn klein krisis ontstaan. Die mense het flink gedrink en halfpad deur die fees was al die wyn op. Die rabbi’s was lief om in daardie tyd te sê dat wyn die vreugde van ʼn bruilof is. Die seremoniemeester het met sy hande in sy hare gesit en die pa van die bruid was verleë. Dis ongasvry as jy nie meer iets het om te drink nie. Wat nou? “Geen probleem nie”, het Maria gedink, “Jesus is mos hier.”

Op die oog af reageer Jesus bot op sy ma se vraag of Hy nie iets aan die probleem kan doen nie. “Ma, wat het ek met ma se probleem te doen? My tyd het nog nie gekom nie.” Maria hou haar besig met die wyn, maar Jesus hou Hom besig met die dieper dinge van sy Vader. Dit het Maria nie gesnap nie.

Daar was ses groot waterkanne wat nagenoeg 150 liter water gehou het. Jesus verander die water in wyn, uitstekende wyn. Johannes sê dat dit die eerste teken was wat Jesus gedoen het. Opvallend. Johannes noem dit nie ʼn wonderwerk noem nie, maar ʼn teken. Soos wat ʼn bruilof sonder wyn minder aangenaam is, so is ʼn lewe sonder God oppervlakkig en sonder blydskap.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS