Bible Society of South Africa
Danny Fourie

Wie is hierdie Man? – Dag 19

Sagmoedig of sag

Bybelteks(te)

Die reiniging van die tempel

15Hulle kom toe in Jerusalem aan. Jesus het na die tempel toe gegaan en die mense wat op die tempelplein besig was om te koop en te verkoop, daar begin uitjaag. Die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi.

MARKUS 11:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons noem mense met ʼn sagte karakter sommer vinnig slap. Nou ja, daar kan ʼn verskil wees tussen sagmoedig en sag. Jesus was sagmoedig, maar dit beteken nie dat Hy geen ruggraat gehad het nie. Hy het gestaan vir dit waarin Hy geglo het.

ʼn Sagmoedige persoon is iemand wat sag van gemoed of van natuur is, nie bars en streng nie. By Jesus het mense uitermate op hul gemak gevoel. Hy het hulle aanvaar soos wat hulle was. Hulle kon na Hom toe kom met hulle vuilheid en gebreke. Jesus het nooit met ʼn ompad om mense geloop nie. Nooit het Hy sommer iemand langs die pad laat lê nie. Sy openheid was indrukwekkend. Sagmoedigheid is om na iemand se moontlikhede te kyk en nie net na sy of haar gebreke nie.

ʼn Mens kan Jesus se sagmoedigheid sien in sy werklike belangstelling in mense. Hy het nooit oppervlakkige praatjies gemaak nie. Hy het na die diepste nood gesoek. Agter die opsigtelike probleme het Hy na die oorsaak gesoek.

Stel jou voor jy kom by die dokter met rooi kolle oral op jou lyf. Die dokter maak die diagnose: masels. Vervolgens plak hy op elke rooi kol ʼn pleister. Het die dokter nou gek geword? Die kolle is simptome, die ware siekte sit in jou bloed. Jesus is geïnteresseerd in die siekte wat in die kern van jou bestaan skuil: die sonde. Hy wil jou hart bereik en met sy liefde jou diepste nood en eensaamheid aanraak.

Dit noem ek sagmoedigheid. Werklike bewoënheid met mense. Soms deur heel duidelik die waarheid vir iemand te sê. Dit is meer sagmoedig van jou pa of vrou dat hulle jou soms aanvat, as wat hulle jou maar altyd jou gang laat gaan.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS