Bible Society of South Africa
Danny Fourie

Wie is hierdie Man? – Dag 16

Jesus se mag oor die natuur en oor mense

Bybelteks(te)

42Al die mense het geëet en genoeg gekry.

44Van dié wat van die brood geëet het, was net die mans vyf duisend.

Asof dit nie einde kry nie, gaan die verslae oor hoe besonder Jesus is voort. Hy gee meer as 5 000 mense kos met vyf visse en twee brode. ʼn Bakker sou dae lank moes bak om soveel brode te kon lewer. Later het Hy nog ʼn keer dieselfde met sewe brode gedoen. Hy loop op water asof swaartekrag nie bestaan nie. Die dissipels het eers gedink dit is ʼn spook. Hy maak ʼn bulderende storm stil en op sy stem raak die see kalm. Die mense glo Hom nie, maar die natuur luister ten minste na Hom. Jesus ry op ʼn onberede, ongetemde donkie ongestoord Jerusalem binne.

Op sy stem stort ʼn kudde van 2 000 besete varke oor ʼn steil afgrond die see in. Wie is hierdie man tog dat alles en iedereen, die hele wêreld na Hom luister? Daar is blykbaar geen deel van die wêreld waaroor Hy nie mag het nie.

Vir Andreas en Simon sê Jesus: “Kom agter My aan en Ek sal julle vissers van mense maak.” Ek kan dink dat die vissers na mekaar gekyk het. Is U nou heeltemal … Hier lê alles van my waarin ek duisende in belê het. En tog, ook Jakobus en Johannes, seuns van Sebedeus, los hulle pa, bedryf, boot en personeel net daar en loop agter Jesus aan. Levi, die korrupte belastingamptenaar loop sondermeer uit sy kantoor en volg Jesus. Wat is dit wat Jesus uitgestraal het? Blykbaar kon jy nie sy opdrag weier nie. Was dit sy oë wat so oortuigend was? Vreemd dat hulle ʼn wildvreemde volg. Wie is hierdie Man?

Die skepping het nooit Jesus se mag ontken nie. Net die eiewyse mens het. Ons is die enigste wat ja of nee kan sê. Dit maak die mens so uniek en kwesbaar.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS