Bible Society of South Africa
Danny Fourie

Wie is hierdie Man? – Dag 15

Mag oor siekte en dood

Bybelteks(te)

25Daarna het Jesus weer sy hande op sy oë gesit. Die man het sy oë oopgemaak, en hulle was reg. Hy het alles duidelik gesien.

Uitermate indrukwekkend is Jesus se mag oor siekte en dood. Aan die begin van sy bediening as Messias het Hy mense met ʼn enkele gebaar of woord genees. “Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” “Steek jou gebreklike hand uit” en die hand het gesond geword. Hy het sy vingers in die ore van ʼn dowe gesteek, gespoeg, sy tong aangeraak en gesê: “Gaan oop.” Hy spoeg in die oë van ʼn blinde, lê hom die hande op en die blinde kan sien. ʼn Vrou met bloedvloeiing wat die hele mediese beroep geraadpleeg het, word genees. Die afgesnyde oor van ʼn slaaf word sommer weer aangeplak. Jesus het ook mense wat besete was en mense met ʼn siek gees genees.

Jesus het gekom om die werk van Satan te verbreek. Agter elke siekte moet ons die vernietigende krag van die sonde sien. Dit was nie bedoel om so te wees nie. Oral waar Jesus gekom het, was daar ʼn gewemel en ʼn gesleep van matrasse en siekes. Waar Hy ook al gekom het, het die siekes op die markpleine gelê. En almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword. Mettertyd het Jesus ʼn soort attraksie geword, ʼn rondreisende wonderman. Die dokters van die tyd was ontsteld en kwaad want hulle pasiënte het minder geword.

Mense was verbaas toe Hy die dogtertjie van Jaïrus uit die dood lewend gemaak het. Waarom het Jesus dit enigsins gedoen? Sodat die mense moes glo dat God Hom gestuur het. Hy het mag oor lewe en dood. Jesus het duidelik gewys dat Hy gekom het om ook die gevolge van die sonde te oorwin.

Die hele Israel het van verbasing versteen. Wie is hierdie Man?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS