Bible Society of South Africa
Danny Fourie

Wie is hierdie Man? – Dag 13

Jesus se mag as leraar

Bybelteks(te)

40Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom.

47Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde.

Nou onlangs hoor ek hoe sing die kinders in die kleuterkerk: “Hy is magtig, Hy is pragtig.” Ek het aan hierdie woorde gedink toe ek oor Jesus nagedink het. Magtig en pragtig, mooi woorde om die Here Jesus te beskryf. Ons sê nie sommer dat Jesus pragtig is nie. Ons sê gewoonlik iets of iemand is pragtig, ʼn kar of ʼn persoon. Maar Jesus was ook ʼn pragtige persoon. Hy het vir ons gewys hoe God menswees bedoel het. So kon julle as mense gewees het. Tegelykertyd is Jesus veel meer as ʼn mens.

Op twaalf jaar het Hy die Bybelgeleerdes verstom oor sy insiggewende vrae. Die Bybelgeleerdes was nie dom nie, mens kan maar sê hulle was professore in die teologie.

Soos niemand anders nie het Jesus die woorde in die Ou Testament begryp wat op Hom van toepassing was. Hy het insig gehad in die groot lyne van die Ou Testament. Die mense was verras oor sy leermetode. Hy het nie net allerhande pragtige gedagtes van geleerdes aangehaal nie, maar sy kenmerkende manier van leer was: Ek sê vir julle … Hy het nie soos ʼn Skrifgeleerde geleer nie, maar soos iemand wat gesag het, sê Markus (1:22). Vroeër is daar miskien gesê, maar Ek sê vir julle … Hy het die geldende reëls opgeskerp en gesê dat dit in sy koninkryk nog radikaler gaan (Matteus 5:31,33,38).

Jesus se onderrig is eenvoudig en verstaanbaar. Hy gebruik herkenbare voorbeelde. Hy praat oor dinge wat elkeen verstaan het: ʼn herder, ʼn wingerdstok, om ʼn huis te bou, ʼn mosterdsaadjie, ʼn boer wat saai, onkruid en so aan. Juis deur die gewone taal wys Jesus dat God naby mense wil kom en dat God geïnteresseerd is in die dinge van elke dag.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS