Bible Society of South Africa
Danny Fourie

Wie is hierdie Man? – Dag 11

Sy eerste teken

Bybelteks(te)

11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!

Die wonder van die water wat wyn geword het, is ʼn teken. God gebruik dit om ons iets te wys. Jesus het duidelik gesien dat daar ʼn gebrek aan vreugde by die bruilof ontstaan het omdat die wyn opgeraak het. Hierdie klein krisis wys op ʼn veel groter krisis. En die gawe van Jesus om die water in wyn te verander wys op ʼn groter gawe. Hierdie teken laat ons sien dat Jesus gekom het om ons diepste behoeftes te vervul. Die gebrek aan wyn dui aan wat ons nodig het. Soos wat ʼn fees sonder wyn minder aangenaam is, so is ʼn lewe sonder God heeltemal oppervlakkig en sonder ware blydskap.

Hier reg aan die begin van Jesus se werk op aarde maak Hy dit duidelik: Ek het gekom om iets moois van julle lewe te maak. Julle kan dit nie self doen nie, maar ek wil dit vir julle gee. Dit is prettig dat Jesus juis die reinigingswater gebruik het om die wyn van te maak. Die Jode het allerlei wette gehad. As jy daardie wette onderhou, dan hou God van jou, het hulle gedink. Die reinigingskanne was ʼn simbool van die droewige pogings van mense om van hul eie lewe iets te maak. Jesus is die enigste Een wat jou kan reinig en vir God aanneemlik kan maak. Daar bestaan nie ʼn selfverbeteringspakket nie. Ons het nie ʼn doen-dit-self-geloof nie.

Sonder wyn — geen fees. Sonder Jesus word die lewe geen fees. Om sonder God fees te vier — dit kan nie.

ʼn Positiewe begin. Onthou dit wanneer jy oor Jesus nadink. ʼn Lewe sonder Christus is soos ʼn bruilof sonder wyn. Jesus maak heel aan die begin duidelik dat Hy oorvloed, baie vreugde en blydskap kom bring het.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS