Bible Society of South Africa
Danny Fourie

Wie is hierdie Man? – Dag 1

Wie is hierdie Man?

Bybelteks(te)

15“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

MATTEUS 16:15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hy het ʼn lang jas gedra. Sy swart hare was ewe lank. Vir ʼn haarkapper het Hy nie tyd gemaak nie. ʼn Robuuste baard het sy gesig bedek. Indringend het Hy na die wêreld gekyk. Sy oë was vriendelik en met sy rysige gestalte het Hy opgeval.

Oral in Kaapstad het die mense van Hom gepraat. Hy was die gespreksonderwerp van die dag. Hy was anders. Hy het in die Kompanjiestuin by die fontein gestaan en van God vertel. Onder die verkeersbrûe het hy met die bergies en die swerwers gesels. In die hawe het hy vriendelik met die prostitute gesprekke gevoer. Die bordele en die pimps het Hy skerp aangespreek: “Julle beroof hierdie meisies van hulle vryheid.” Asielsoekers en onwettige immigrante uit Afrika het ʼn warm plek in sy groot hart gehad.

Eendag het hy by die parlement ingestap en met die owerheid oor die vele misstande in die land gepraat. Hy het die Kaapse stadsraad vir ʼn lys gevra vir al die dinge waarvoor Hy in die Moederstad kan bid.

By ʼn tehuis vir sterwende vigspasiënte het Hy hulle van sy Vader in die hemel vertel. Hy is Stellenbosch toe om daar met die professors in die teologie te gaan praat. Hulle het verstom gestaan oor sy enorme kennis en het gevra: “Waar het U gestudeer?” By een van die groot finansiële instellings in Adderleystraat het Hy eendag ʼn skerp preek teen die mag van geld gelewer. By die Tygerberg Hospitaal het Hy die siekes gaan besoek en sommige van hulle met ʼn enkele woord of handgebaar genees. Die dokters was verstom. Hy was anders as ʼn homeopaat of kwaksalwer.

Eendag was Hy by ʼn begrafnis. Hy het na vore getree en vir die dooie in die kis gesê: “Word lewend!” Dit het ook so gebeur. Die mense het bang geword. Wie is hierdie man? Niemand weet waar Hy vandaan kom nie. Niemand het geweet waar Hy woon nie.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS