Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Wie is God – Dag 7

Wonderbaarlik!

Bybelteks(te)

6Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.”

EKSODUS 34:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die wêreld hou van prag en praal, grootsheid en glans — maar nie noodwendig in daardie volgorde nie. Elke land het sy eie manier om hierdie dinge te beklemtoon: die prag van die monarg op die troon, ʼn luisterryke militêre parade, die glorie van ʼn nasionale sportspan wat kampioene geword het, of die glans van die filmwêreld — om maar net ʼn paar om te noem. Inteendeel, dit lyk of mag en glans die wêreld in vervoering het en alles daarom draai. Vergelyk ʼn mens wêreldse mag en heerlikheid met dié van die Skepper van die wêreld, is dit egter duidelik dat dit heeltemal op verskillende vlakke is.

Eksodus 34:6-7a gee ʼn relatiewe kort beskrywing van ʼn inspirerende en almagtige God, en spreek die eerste woorde van dié aankondiging nie boekdele nie? Hierdie woorde skep vir ons ʼn ongelooflike prentjie van God se aard wat sy goedheid, genade en trou vervat. Kan dit enigsins met die wêreld se begrip van grootheid vergelyk word?

Toe Moses vir God gevra het om sy heerlikheid te openbaar, het hy regtig geweet wat hy vra? Of was Moses so oorweldig deur die omvang van sy missie dat hy, ondanks God se belofte om by hom te wees, soos baie van ons wanneer ons voor ʼn groot uitdaging te staan kom, wou hê dat God sy grootheid aan hom moes bewys? Hy is eintlik baie uitgesproke as ʼn mens in ag neem met wie hy praat, maar God verstaan en stem in om sy heerlikheid aan Moses te bewys, maar nie sy gesig nie, want niemand mag sy gesig sien en bly lewe nie.

God se heerlikheid is sy goedheid: deernis, genade, geduld met oortreders, omvattende liefde, getrouheid aan duisende, vergifnis en geregtigheid. Hy straal dit uit omdat Hy vol is daarvan. Sy heerlikheid kom van binne, terwyl die heerlikheid van die wêreld aan die buitekant is. God se heerlikheid sal op grond van sy karakter nooit teleurstel nie: die uitstorting van liefde en vergifnis sal vir ewig aanhou, want Hy is ewig — in teenstelling met dié van die wêreld wat oppervlakkig is en ʼn raklewe het, en so vinnig soos mis voor die son verdwyn.

Wie is God?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS