Bible Society of South Africa
Louise Gevers

Wie is God – Dag 16

Die God wat sorg

Bybelteks(te)

4Maar vir die regverdiges sal daar blydskap wees,

hulle sal juig voor God,

hulle sal vrolik en bly wees.

5Sing 'n lied tot eer van God,

sing tot eer van sy Naam,

maak 'n pad vir Hom wat op die wolke ry,

en jubel voor Hom wie se Naam Here is.

6'n Vader vir weeskinders

en 'n beskermer van die reg van weduwees

is God in sy heilige woning.

PSALMS 68:4-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Van die begin af het ons op Skrifgedeeltes gefokus wat aan ons openbaar wie God is en oor watter eienskappe Hy beskik. Vandag se gedeelte noem ʼn paar van sy wonderlike en diverse eienskappe: majesteit, heerlikheid, krag, sagmoedigheid en regverdigheid. God is ook Beskermer, Bevryder en Regter.

ʼn Mens besef daar is niemand soos God nie — niemand wat naastenby al hierdie dinge tegelykertyd vir so baie mense op so ʼn grootse skaal kan wees nie! Hierdie eienskappe teken ʼn wonderlike prentjie van hoe Hy alles met begrip en toewyding moeiteloos balanseer en alles ten goede van almal in ʼn volmaakte orde hou.

Let daarop dat God se kinders opgeroep word om sy lof te besing wanneer hulle op al sy volmaakte deugde fokus. Hoe verskil dit nie van die beeld wat ons het van die chaotiese wêreld waarin ons leef en wat sy fokus op God verloor het nie. Ons sien niks van die harmonie wat teweeg gebring kan word deur regverdige leiers wat omgee en versorg en hulle aan God onderwerp nie. Trouens, die woorde van Maleagi 2:10 bestraf ons: “Ons het tog almal een Vader, ons is tog deur een God geskep? Waarom is die een dan ontrou aan die ander en ontwy hulle die verbond van God met ons voorvaders?”

Alhoewel hierdie gedeelte verwys na die verbond tussen God en Abraham, Isak en Jakob — die voorvaders van die Israeliete — is dit ook op ons wêreld van toepassing, want God is Skepper en Vader van alle mense; die Een wat sy skepping onpartydig versorg en genoeg omgee vir sy kinders om vir hulle Vader, Beskermer, Voog, Bevryder en Regter te wees.

God se plan is dat almal versorg en deel van sy plan van verlossing moet wees. Hy het die wêreld wat Hy geskep het lief en sluit Homself hierby in. Hy is ʼn liefdevolle Vader wat altyd naby is! Hy sorg altyd vir ons, Hy voorsien vir ons en laat ons nooit in die steek wanneer ons moeilike tye beleef nie.

Diegene wat hulle aardse vader verloor het, en vroue wat hul mans verloor het, kan van God se getrouheid, sorg en voorsiening in hul lewens getuig, dikwels op ʼn verstommende manier. God kan volkome vertrou word wanneer Hy sê: “Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red …” (Jesaja 46:4).

Regdeur die Bybel sien ons hoe God vir sy kinders sorg. Dit is egter in die Nuwe Testament dat sy rol as Vader werklik geopenbaar word wanneer Hy sy Seun, Jesus Christus, na die wêreld stuur om mense van hulle sondes te red.

Wie is God?

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS