Wandel met God – Dag 6
Wandel met God – met jou hele hart: Kaleb
Bybelteks(te)
NUMERI 14
NUMERI 13
NUMERI 13
NUMERI 14
NUMERI 14
JOSUA 14
“Maar omdat my dienaar Kaleb ʼn ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit.” Numeri 14:24
Onder die Israeliete wat saam met Moses uit Egipte getrek het, was daar ʼn inspirerende persoon genaamd Kaleb. Hy is later as een van die twaalf spioene saam met Josua gestuur om die land Kanaan te gaan verken. Twee dinge het hom laat uitstaan in daardie samelewing, onder andere sy positiewe gesindheid en sy volle vertroue in die God wat hy gevolg het.
Alhoewel al die spioene na veertig dae in Kanaan teruggekeer het met wonderlike stories van die oorvloedige, reusagtige vrugte en verslag gedoen het oor die land wat oorloop van melk en heuning, was Kaleb en Josua die enigste twee wat entoesiasties was om na die land terug te keer en dit in te neem. Die ander het geringe vertroue in God getoon. Hulle was bang vir die inwoners en hulle bevooroordeelde verslag het die Israeliete negatief beïnvloed: “Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.” (Numeri 13:33) Indien ons in ons eie lewe, wanneer ons uitdagings ervaar, op onsself fokus in plaas van op God, mag dit ook vir ons soos “reuse” voorkom. Wanneer ons gevaar of probleme ervaar, sal geloof in die almagtige God ons egter in staat stel om Hom te gehoorsaam.
Kaleb, wat die Here vertrou het om by hulle te wees, was positief, gewillig en vreesloos: “Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: ‘Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.’ ” (Numeri 13:30) Kaleb en Josua het saam vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ʼn buitengewoon goeie land. As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, ʼn land wat oorloop van melk en heuning. Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!” (Numeri 14:7-9) Hulle het besef dat dit sonde is om bang te wees en nie geloof in God te hê wat getrou aan sy belofte in hulle behoefte sal voorsien nie. Geloof sou egter tot ryke beloning lei.
Hierdie opstandige mense, wat God se teenwoordigheid in ʼn wolkkolom in die dag en ʼn vuurkolom in die nag gesien het (Eksodus 13:21-22), wou Kaleb en Josua selfs stenig. Die Here wou hulle sondes egter nou straf want Hy het begin om geduld met hulle verloor oor die manier wat hulle Hom beproef het. Hy het aan Moses verskyn en gesê: “ ‘Nie een van julle sal die land betree wat Ek met ʼn eed aan julle as woonplek beloof het nie, behalwe Kaleb (…) en Josua (…) En wat julle kinders betref, van wie julle gesê het dat hulle krygsgevangenes sal word, vir hulle sal Ek inbring, en hulle sal die land wat deur julle verwerp is, lief kry. Maar julle lyke sal in hierdie woestyn bly lê. Julle kinders sal veertig jaar lank in die woestyn rondtrek. Hulle sal die gevolge van julle ontrou moet dra totdat julle almal se lyke in die woestyn lê. Julle het die land veertig dae lank verken. Julle sal veertig jaar, een jaar vir elke dag, die gevolge van julle ongeregtigheid moet dra. Dan sal julle besef wat dit beteken om My teen julle te hê.’ Ek, die Here, het dit gesê, Ek sal dit beslis doen aan hierdie slegte volk wat teen My saamgespan het: hulle sal in hierdie woestyn omkom en hier sterf.” (Numeri 14:30-35) Wat ʼn tragiese einde om gekies te word vir vryheid en dit dan te versmaai.
ʼn Tweede eienskap van Kaleb is dat niks sy positiewe houding verander het nie. Hy het nie gekla oor hy ook ʼn vertraging van veertig jaar moes verduur voordat hy die beloofde land kon binnegaan nie, en het selfs later gesê: “Van die tyd af dat die Here dit vir Moses gesê het toe Israel deur die woestyn getrek het, het die Here my in die lewe laat bly soos Hy beloof het, vyf en veertig jaar lank. Ek is nou ʼn man van vyf en tagtig, maar ek is vandag nog net so sterk as die dag toe Moses my uitgestuur het. Die krag wat ek toe gehad het, het ek nou nog. Ek kan nog gaan oorlog maak en behoue terugkom. Gee my nou asseblief die bergwêreld waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy het daardie dag gehoor dat daar Enakiete is en groot vestingstede. Miskien sal die Here by my wees sodat ek hulle kan verower soos Hy beloof het.” (Josua 14:10-12) Watter wonderlike geloof het Kaleb nie gehad wat hom in staat gestel het om sy krag en entoesiasme te behou en om uiteindelik sy lang verwagte beloning te ontvang nie.