Bible Society of South Africa

Wandel met God – Dag 5

Wandel met God – in dankbaarheid: Josafat

Bybelteks(te)

2 KRONIEKE 20

18Toe kniel Josafat, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here gebuig en Hom eer betoon.

2 KRONIEKE 20:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 20

21Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.”

2 KRONIEKE 20:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 17

6Hy het sy eer daarin gestel om te leef soos die Here dit wil en het die vernietiging van die hoogtes en gewyde pale in Juda voortgesit.

2 KRONIEKE 17:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KRONIEKE 19

7Mag die vrees vir die Here julle bybly! Wees versigtig en doen julle plig. By die Here ons God is daar nie onreg en bevoordeling en korrupsie nie.”

2 KRONIEKE 19:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Toe kniel Josafat, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here gebuig en Hom eer betoon (…) Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: ‘Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.’ ” 2 Kronieke 20:18,21

Wat ʼn aangrypende prentjie: ʼn Regeerder en sy onderdane wat op die vooraand van ʼn geveg in volkome oorgawe voor die Here buig. En, wat ʼn ongelooflike geveg was dit nie! Hulle gedrag was ongetwyfeld te verstane aangesien hulle teen ʼn baie gevaarlike leërmag moes gaan veg, maar net geloof in ʼn grote God kon ʼn koning oorhaal tot so ʼn ongelooflike gevegsplan. Stel jou voor, enige leërmag gaan na die slagveld met slegs ʼn koor wat die Halleluja-koor sing om hulle te lei! Die Bybel sê oor Josafat: “Hy het sy eer daarin gestel om te leef soos die Here dit wil ….” (2 Kronieke 17:6) Daarom het hy al die Here se opdragte geglo en dit gehoorsaam.

Josafat het die Here onbevrees gevolg, en vandat hy aan bewind gekom het, het hy probeer om die land te hervorm. Hy het ʼn nasionale program vir godsdiensonderrig begin om mense opnuut die wette van die Here te leer en hy het stappe geneem om afgodsbeelde te verwyder. Hy het ook ʼn uitgebreide regstelsel ontwikkel en regters aangestel wat hy opgelei het. Hy het hulle met die volgende woorde aangemoedig: “Mag die vrees vir die Here julle bybly! Wees versigtig en doen julle plig. By die Here ons God is daar nie onreg en bevoordeling en korrupsie nie.” (2 Kronieke 19:7)

Jesus het sy dissipels gewaarsku dat hulle dit moeilik in hierdie wêreld sal hê, maar dat hulle moed moet hou want Hy het die wêreld klaar oorwin (Johannes 16:33). Josafat het dit ook beleef – om ʼn toegewyde gelowige te wees, beteken nie dat jy ʼn lewe sonder probleme gaan hê nie. Hy het tog die Here volkome vertrou. Toe hy dus die nuus kry dat ʼn groot gewapende mag uit Edom opgeruk het, was sy onmiddellike reaksie ʼn oproep vir almal in Juda om te vas en tot die Here te bid dat Hy hulle teen die vyand sal beskerm.

Daardeur is die Here verheerlik.

As ʼn nasie het hulle hul voor die Here verneder en hulle afhanklikheid van Hom bely. Hulle het op die almag van God gefokus en nie op hulle eie swakhede nie. Hulle het hul geloof in Hom bewys deur sy opdragte te gehoorsaam. Dit was al wat nodig was.

Terwyl hulle Hom geprys het omdat daar aan sy liefde geen einde is nie, het die Here die oorlog vir hulle geveg. Hy het dit so bewerkstellig dat die vyand op die ou end mekaar aangeval en doodgemaak het. Toe die Judeërs by die slagveld opdaag was daar net lyke en hulle kon net die buit bymekaar maak.

Die Here het so kragtig gewerk dat Josafat vir die res van sy lewe vrede in sy koninkryk gehad het want al die koninkryke was skrikbevange vir God toe hulle hoor dat die Here oorlog gevoer het teen die vyande van Israel (2 Kronieke 20:29).

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS