Wandel met God – Dag 18
Wandel met God – met ʼn wrok: Jona
Bybelteks(te)
JONA 4
JONA 1
JONA 2
JONA 3
JONA 3
JONA 4
Het jy rede om kwaad te word?
“Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ʼn stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?” Jona 4:11
“Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy ʼn skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af.” Jona 1:3
ʼn Mens is geskok wanneer jy hoor dat ʼn profeet weghardloop van God en dat hy gedink het hy kan God ontvlug. Maar, dit is presies wat Jona gedoen het – Hy was nie gehoorsaam aan God se opdrag om na Nineve toe te gaan om teen die sondes van die inwoners te gaan preek nie. Hy het letterlik uit protes in die teenoorgestelde rigting gevlug en aan boord ʼn skip onderweg na Tarsis gegaan. Hy het God se beslistheid om sy doel te bereik, asook sy geduld met sy moedswillige dienaar, heeltemal onderskat.
Deur sy poging om God se roepstem te ignoreer, het Jona homself in ʼn verskriklike penarie bevind. Die Here het ʼn storm gestuur wat gedreig het om die skip te sink, totdat Jona erken het dat hy die rede vir die storm was en hy die bemanning oortuig het om hom oor boord te gooi. Die storm het bedaar, maar nie vir Jona nie. In die water is Jona deur ʼn groot vis ingesluk en hy het drie dae en nagte in die vis se maag gebly. Hy het gou besef dat sy ontsnappingsplan misluk het. Terwyl hy die dood in die gesig staar het Jona tot sy sinne gekom; hy het sy sondes bely en gebid.
“Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel. Dié wat op nuttelose afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon. Terwyl ek ʼn loflied sing, wil ek aan U ʼn offer bring; wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af.” (Jona 2:7-9; volledige gebed: Jona 2:1-10) Op bevel van God het die vis Jona op droë land uitgespoeg en hy het na Nineve gegaan. Soms het ʼn mens ʼn krisis nodig om jou helder te laat dink.
Getrou aan sy woord het Jona met groot sukses oor God se dreigende oordeel oor die stad gepreek. Die koning het onmiddellik ʼn vas aangekondig om hulle sondes te bely; selfs die diere was hierby ingesluit: “Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het.” (Jona 3:8). “Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.” (Jona 3:10) In teenstelling met wat ʼn mens verwag, was Jona nie baie gelukkig oor die feit dat honderd en twintig duisend mense deur God se genade en sy boodskap gered is nie: “Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. Hy het tot die Here gebid en gesê: ‘Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ʼn genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.” (Jona 4:1-2)
Dit is moeilik om te verstaan hoekom Jona geen medelye vir sy naaste gehad het nie, veral omdat hy God se barmhartigheid so duidelik verstaan het, en aangesien hy net ʼn rukkie tevore deur God bevry is. Kyk ons egter na onsself, besef ʼn mens dat ons houding nie veel beter is nie. Gee ons werklik om vir dit wat met ander gebeur en vir God se opdrag aan ons? (Levitikus 19:18; Matteus 7:12). Jona se gegriefde houding was baie duidelik vir almal om te sien, maar miskien steek ons net ons ware gevoelens weg.