Vriendskap – dag 9
Jesus en Saggeus – onwaarskynlike vriende
Bybelteks(te)
LUKAS 19
Saggeus was ʼn ryk en invloedryke man. Almal het geweet wie hy is, maar hy het waarskynlik nie baie vriende gehad nie. Hy was die hoofbelastinggaarder, wat beteken het dat hy ʼn sekere bedrag vir die Romeinse Ryk aan belastings moes kollekteer. Alles wat hy bo en behalwe dié bedrag van die mense kon afpers, was syne. Hy het mense bankrot gemaak, lenings herroep en mense se besittings afgeneem. Geen wonder niemand het juis van hom gehou nie.
Met dit in gedagte, stel jou die skare se reaksie voor toe Jesus in die openbaar Homself uitnooi om in Saggeus se huis tuis te gaan. In Saggeus se tyd het ʼn ete saam met mense dieselfde beteken as vandag – dit is as ʼn daad van vriendskap beskou.
Dit is onwaarskynlik dat Saggeus veel gemeen gehad het met die mense wat dié dag van sy ontmoeting met Jesus na sy huis toe gekom het. Hulle het verskillende beroepe gehad, en uit verskillende sosiale kringe en agtergronde gekom, maar hulle liefde vir Jesus en hulle verlange om by Hom te wees en van Hom te leer, het hulle bymekaargebring. Dit is wat Jesus vir sondaars doen. Hy roep ons by die naam, en Hy nooi ons uit om vriende met Hom te word. Hy gee nie om of dit sosiaal aanvaarbaar is of nie, en Hy doen dit nie om Homself beter te laat lyk nie. En dit moet ook ons houding wees.
Dit laat my wonder of daar iemand is wat die Here vir my as vriend wil gee maar wat ek miskyk. Die vrou by die werk wat ek gewoonlik ignoreer? Die man wat met ʼn aksent praat of miskien glad nie my taal praat nie? Die armes, die eensames, diegene wat van my verskil? Kom ons klim ʼn bietjie uit ons gemaksone en sien ʼn wêreld raak wat so ʼn groot behoefte het aan ʼn vriend soos Jesus – en ook aan ʼn vriend soos ek en jy.