Vriendskap – dag 8
Abraham – vriend van God
Bybelteks(te)
JAKOBUS 2
JESAJA 41
Ek hou jou vas
JOHANNES 15
Ons lees drie keer in die Bybel dat Abraham God se vriend was (2 Kronieke 20:7; Jesaja 41:8; Jakobus 2:23). Wat ʼn merkwaardige stelling! En dit is nie hoe Abraham hulle verhouding beoordeel het nie maar God self. In ons teks vandag haal Jakobus aan uit Jesaja 41:8: Maar jy, my dienaar, Israel, Jakob vir wie Ek uitverkies het, afstammeling van Abraham vir wie Ek liefhet … Dink vir ʼn oomblik daaroor na. Stel jou voor, die almagtige, ewige, alwetende God verwys na ʼn onvolmaakte, sterflike mens as sy geliefde vriend.
Hulle verhouding was op respek en gehoorsaamheid gebaseer; Abraham het God vertrou om hom te lei na waar hy ook al moes gaan. Abraham was ʼn gehoorsame man. Wanneer God gepraat het, het Abraham Hom gehoorsaam. Abraham het God onmiddellik gehoorsaam en sy land en sy mense verlaat (Gen 12; Heb 11:8-10). Abraham het sy geloof in God geplaas toe hy Isak moes gaan offer (Gen 22:1-19). Abraham het nooit probeer om God se bevele te bevraagteken nie. Selfs al was hy gehoorsaam aan God, maak Romeine 4 dit baie duidelik dat hy nie vrygespreek is omdat hy dit deur sy werke verdien het nie, maar omdat hy in God geglo het en omdat hy geglo het dat God sal doen wat Hy beloof het.
Vriendskap met God is is iets om na te streef, iets wat ons almal kan bereik. Abraham was miskien een van die groot manne in die Bybel, maar hy was nie sonder sonde nie. Jesus sê: “Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel” (Joh 15:14). Is jy ʼn vriend van God? Anders gestel, gehoorsaam jy Jesus se bevele?