Vriendskap – dag 4
Rut en Naomi – Rut se offervaardige lojaliteit
Bybelteks(te)
RUT 1
Die meeste staaltjies wat mense deesdae oor skoonma’s vertel is nie baie positief nie! Dit is gewoonlik grappies en stories oor iemand wat jy maar verdra omdat jy moet, en definitief nie omdat jy wil nie. In die pragtige uitdrukking van toewyding en lojaliteit hierbo, is dit duidelik dat Rut se houding jeens haar skoonmoeder baie anders was. Rut se lojaliteit teenoor Naomi strek baie verder as wat van haar as aangetroude familielid verwag kan word.
Naomi het vir Rut ʼn kom-gratis-uit-die tronk-kaartjie gegee. Rut kon ook soos Orpa teruggegaan het na haar eie mense toe sonder dat enigiemand sleg van haar sou dink. Maar Rut se liefde vir Naomi en haar God dryf haar om nie haar skoonma die rug toe te keer nie.
Miskien het Rut onthou dat Naomi ʼn baie moeilike tyd in Moab beleef het. Sy besef dat haar skoonmoeder ʼn dekade weg was van haar land, ʼn vreemdeling in ʼn vreemde land, en dat sy boonop treur oor die verlies van haar man en seuns. Rut weet egter dat die bordjies verhang gaan word as sy by Naomi bly– sy (Rut) gaan nou die vreemdeling wees, sy gaan haar mense verlaat. Maar sy weier om kop te gee. Sy is gewillig om dieselfde swaarkry as Naomi te beleef, om in haar swaarkry en hartseer te deel. Dit is ook duidelik dat Rut Naomi se God leer liefkry het en dat sy die Moabitiese gode vir die ware God versaak het.