Vriendskap – dag 2
Eienskappe van ware Christenvriende
Bybelteks(te)
JOHANNES 15
SPREUKE 18
SPREUKE 27
Hoe lyk ware Christenvriendskap? Kom ons ontleed so ʼn vriendskap volgens eienskappe wat maklik is om te herken.
Christenvriende se liefde is vol opofferings
“Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.” Johannes 15:13
Jesus is die beste voorbeeld van ʼn ware Christenvriend. Sy liefde vir ons is vol opofferings, nooit selfsugtig nie. Hy het sy ware liefde vol opofferings byvoorbeeld deur sy wonderwerke van genesing gedemonstreer, en verder deur die nederige daad om die voete van sy dissipels te was en uiteindelik deur sy lewe vir ons aan die kruis af te lê.
Christenvriende vertrou mekaar volkome
Maats kan jou breek, maar daar kan ook ʼn vriend wees wat nader is as ʼn broer. Spreuke 18:24
Hierdie spreuk herinner ons dat ʼn ware Christenvriend betroubaar is, en dit waarsku ons dat ons moet verwag om net ʼn paar lojale vriende te hê wat ons volkome in ons vertroue kan neem. Om mense te maklik te vertrou, kan jou breek. Wees dus versigtig wie jy vertrou. Mettertyd sal jou ware Christenvriende hulleself bewys deur by jou te staan, selfs meer as ʼn broer of suster.
Christenvriende bou mekaar op
Yster slyp yster, vriende vorm mekaar. Spreuke 27:17
Ware Christenvriende sal mekaar emosioneel, geestelik en fisies opbou. Van ons Christenvriende ontvang ons krag, bemoediging en liefde. Ons praat, ons huil, ons luister. Maar soms moet jy ook moeilike dinge sê wat jou dierbaarste vriend nodig het om te hoor. Maar juis omdat julle mekaar vertrou en aanvaar, is jy miskien die enigste persoon wat tot jou vriend kan deurdring, want jy weet hoe om ʼn moeilike boodskap op ʼn Christelike manier oor te dra. Op sy beurt help hierdie vriend om jou te vorm sodat jy bruikbaarder kan wees vir God.
ʼn Ware Christenvriend is ʼn seldsame skat. So ʼn vriendskap neem tyd om te ontwikkel, maar in die proses groei ons om meer aan Christus gelyk te word.