Vriendskap – dag 1
Christelike vriendskap
Bybelteks(te)
HEBREËRS 10
EFESIËRS 4
Ek het vriende nodig in my lewe. En ek bedoel nie net vriende saam met wie ek rugby kan kyk of skoene kan gaan koop nie. Ek bedoel vriende wat my so liefhet dat hulle met my kan deel wat God in hulle lewens doen. Ek het vriende nodig om my te bemoedig, maar wat my ook sal teregwys.
Ek dink dit is waarna die skrywer van Hebreërs in hierdie teks verwys. As deel van die liggaam van Christus, is ons geroep om deur die Gees meer en meer soos Hy te word en om mekaar aan te spoor en te ondersteun. In Efesiërs 4:16 sê Paulus: … en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ʼn eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde. Die Here het ons nie geroep om die wedren alleen te hardloop nie, maar deur sy genade is ons deel van sy Liggaam hier op aarde wat ons soms bemoedig, ondersteun en versorg, en ons selfs vermaan wanneer nodig.
In die Bybel is daar baie voorbeelde van Christelike vriendskap, en gedurende hierdie maand gaan ons die lewens van mense soos Naomi en Rut, Dawid en Jonatan, en Paulus en Timoteus ʼn bietjie van nader bekyk en uitvind wat hulle ons van ware vriendskap leer, ook vir vandag waar jy ʼn vriend kan “verwyder” deur op ʼn knoppie te klik.