Vriendskap – dag 19
Maria en Marta – griewe kan vriendskap belemmer
Bybelteks(te)
LUKAS 10
Op besoek by Marta en Maria
Die verhaal van Maria en Marta is ʼn bekende een; die twee vroue wat tydens Jesus se besoek so verskillend gereageer het. Albei susters was vriende met Jesus. Hy het by hulle aan huis gekom. Hulle het saam geëet en saam gesels.
Op dié spesifieke dag het Marta haar selfbeheersing verloor. Die Bybel sê Marta het Jesus as gas ontvang; dus was sy heel moontlik die ouer suster. Sy was verantwoordelik om seker te maak dat alles gereed was vir Jesus se besoek, en in haar gemeenskap sou sy beskaamd gestaan het as alles nie na wense was nie. Lukas vertel ons dat sy baie bedrywig was om alles klaar te kry. ʼn Mens kry die gevoel dat sy ook veel eerder na Jesus sou wou luister, maar iemand moes seker maak dat almal kos kry. Haar reputasie as gasvrou was op die spel. Ek kan my voorstel dat Marta al hoe meer gegrief gevoel het daar waar sy in die warm kombuis besig was. Uiteindelik kon sy dit nie meer verduur nie. Luister hoe sy haar klagte bewoord: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”
In plaas van om te probeer om Jesus deur ons diens aan ander tevrede te stel en Hom te dien, is dit maklik om onsself eerste te wil stel en voortdurend te soek vir eerbetoon en erkenning. Kry ons dit nie, is dit nie lank nie of ons is ontevrede met God. Ons begin vra of Hy regtig vir ons omgee en waarom Hy ons dan nie help op die manier wat ons wil hê nie. Dit belemmer dikwels ons vriendskap met medegelowiges, maar ook met Jesus self.