Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Vriendskap – dag 11

Lesse uit Job (Deel 2): Bildad

Bybelteks(te)

JOB 6

28Maar kyk nou na my geval,

ek sal tog nie in julle gesig vir julle lieg nie.

29Besin julle, moenie dat daar onreg geskied nie,

besin julle, my saak is reg.

30Het ek onreg gepleeg met wat ek gesê het,

weet ek nie wat 'n ramp is nie?”

JOB 8

Bildad: Sal God die reg verdraai?

1Toe sê Bildad die Suagiet:

2“Hoe lank gaan jy nog so praat?

Jou woorde kom soos 'n orkaan.

3Sal God die reg verdraai,

sal die Almagtige verdraai wat reg is?

Ná Elifas probeer het om Job te oorreed om sy sondes te bely, word Job baie kwaad. Sy vriende het steeds geglo dat hy as gevolg van sy sondes so swaar kry, en hy vra hulle om ter wille van sy integriteit hulle standpunt te heroorweeg. Bildad tree tot die gesprek toe en is geensins so beskeie en versigtig soos Elifas nie.

Job se uitbarsting ontstig Bildad. Hy beskryf Job se woorde as ʼn orkaan (8:2). Hiermee bedoel hy dat hy Job se woorde baie negatief ervaar. Hy kan nie glo dat Job so teen God uitvaar nie, want, sê Bildad: “Sal God die reg verdraai, sal die Almagtige verdraai wat reg is?” (8:3). Dit is asof Bildad vol vertroue vir homself die rol van God se amptelike woordvoerder of perssekretaris toe-eien. ʼn Aanval teen God moet afgeweer word. Dit is dus Bildad se dilemma. Hy moet Job se woordvloed stop, maar hy wil darem ook vir Job ʼn bietjie hoop gee.

Bildad het ook sekere aannames gemaak oor beide sy vriend en oor wat God in sy (Job se) lewe doen. Hy kan nie en wil nie glo dat Job onskuldig is nie. Hy beroep hom op die bevindings en insigte van die voorgeslagte (Job 8:8-10), en haal ʼn klomp van hulle wyshede vir Job aan. Elifas het aannames gemaak wat op sy eie ondervindings gebaseer is, terwyl Bildad sy aannames op die geskiedenis baseer en op wie hy dink God is. Albei was verkeerd.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS