Bible Society of South Africa
Quintus Heine

Vreugde en seisoene – Dag 8

Liefde teenoor jou familie

Bybelteks(te)

32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

EFESIËRS 4:32AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek dink die grootste toets vir jou bereidwilligheid om God te dien en aan Hom gehoorsaam te wees, is baie keer binne jou gesins- of familieverband. Die gesin en familie is dikwels die omgewing waar ons die Christelike beginsels die moeilikste uitleef. Miskien omdat dit die plek is waar ander jou so goed ken. Miskien is dit omdat dit die omgewing is waar al jou maskers afkom en jy is soos jy is. Soms is dit ook moeilik omdat jou medefamilielede dit nie altyd vir jou maklik maak nie. Jou gesin en familie is die oefenveld vir die wedstryd wat jy elke dag speel. As jy nie daar slaag om in opregte en selfopofferende liefde te leef nie, gaan jy dit moeilik regkry in die wêreld daarbuite. Daar in die binnekring, waar ander nie altyd kan sien nie, dit is waar die egtheid van ons hart getoets word.

Jy moet dus in jou gesins- of familieverband die gesindheid uitleef soos Paulus dit in Efesiërs 4 stel: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar”. Dit beteken jy moet moeite doen om ander tegemoet te kom en uit die hart te probeer om goed te doen aan mekaar. Moenie net aan jou eie behoeftes dink nie. Mense vergeet dikwels dat hulle nie net vir hulself daar is nie, maar vir mekaar, en daarom behoort eie behoeftes nie eerste te kom nie! Elkeen moet spesiale moeite doen om in sy of haar familieverband hul naasteliefde uit te leef.

Verder vra Paulus dat ons mekaar moet vergewe soos God ons vergewe het. Miskien is dit die kern van familielede se liefde vir mekaar – om mekaar te vergewe en om in vrede en harmonie met mekaar saam te leef.

Soms is dit moeilik, maar die Here vra hierdie tipe liefde van elke gelowige. Jy moet jou naaste liefhê en onthou voordurend dat daar niemand nader aan jou is as jou huweliksmaat, kinders, broer en suster, of jou ouers nie. Naasteliefde begin by hulle.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS