Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Vreesloos vorentoe – Dag 9

Vreesloos vorentoe: Omdat jy jou eindbestemming ken

Bybelteks(te)

JOHANNES 11

25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

JOHANNES 11:25-26AFR83Maak oop in die Bybelleser

ROMEINE 10

9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

ROMEINE 10:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

[Een van die algemeenste vrese uit lesers se e-posse is ʼn vrees vir die dood. Wat wag daarna op ons? Kan ons vir seker weet waarheen ons op pad is? Wat van ons ongelowige familielede of vriende?]

ʼn Jaarlikse hoogtepunt vir my en my broer en suster wat in die Vrystaat grootgeword het, was die destydse Bloemfonteinse Reënboogskou. Die pretpark met sonsondergang het gesorg vir groter opwinding as die stalletjies deur die loop van die dag. Dáár het ons die stampkarre, skulpe en die groot boot gery wat heen en weer swaai. Die groot gunsteling was egter die treintjie. Vier mense sou in ʼn trokkie sit wat ʼn roete met styl opdraandes, onverwagse draaie en vinnige afdraandes op die spoor gevolg het. Die laaste gedeelte van die roete het gewoonlik veroorsaak dat insittendes gil en klou vir hul lewens wanneer die trokkie teen ʼn steil afdraande jaag om by die eindpunt te stop.

Kan jy dink watter vrees jou moet beetpak as jy voor in so ʼn trokkie sou sit en agterkom dat die remme van julle trokkie ingegee het terwyl julle ʼn ander trok teen ʼn hoë spoed nader en jy weet dat ʼn botsing onafwendbaar is? Dít is wat by die Alton Towers Resort pretpark in Staffordshire, Brittanje, gebeur het. Nie net is die insittendes voor in die trokkie ernstig in die botsing beseer nie; ʼn jong meisie het haar been tydens die ongeluk verloor.

Op aarde is ons ook in ʼn “trokkie” op ʼn roete soos die treintjie in die pretpark. Soms beleef ons styl opdraandes, onverwagse draaie en vinnige afdraandes. Omdat God ons geskape het met ʼn vrye wil, kan ons egter kies om Hom óf deel van ons reis te maak óf ons kan dit alleen aandurf. Die verskil is dat ons met ons sterfdag (wanneer die rit eindig) in sy teenwoordigheid kan instap as Hy deel is van ons lewens. Dit teenoor ʼn rit wat soos die een by Alton Towers Resort in ʼn ramp verander wanneer ons sterf en ʼn ewigheid sonder Hom betree.

Kan ons seker weet dat ʼn lewe na die dood op ons wag? In Johannes 11:25-26 praat Jesus met Marta nadat sy vir Hom gesê het dat haar broer, Lasarus, nog sou leef as Jesus vroeër gekom het: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”

Wat moet ons doen om die ewige lewe te beërwe? Ons moet ons sondes bely en Jesus Christus as Verlosser aanneem. In Romeine 10:9 lees ons: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.”

Wat van ons ongelowige geliefdes? In 2 Korintiërs 3:14 lees ons dat die vyand ongelowiges se oë met ʼn sluier bedek sodat hulle nie die waarheid beleef of wil aanvaar nie. Dink maar aan al die vrugtelose gesprekke wat jy al met jou ongelowige geliefdes gehad het. Net soos God jou nie gaan forseer om Hom te dien nie, kan jy ook nie jou man, vrou, kinders of vriende forseer om Hom te kies nie — al wil jy so graag. Wat jy wél kan doen, is om te bid, want daar is geweldige krag in gebed. Uiteindelik is dit in elk geval die Heilige Gees wat harte aanraak en versag. Dit is ook Hy wat geleenthede skep vir daardie sluier om af te val sodat ons geliefdes die waarheid kan beleef.

Kom ons beweeg dus vreesloos vorentoe deur die lewe met die wete dat ons op aarde kan verseker dat ons op pad is na ʼn eindbestemming in God se teenwoordigheid as ons sterf. En kom ons hou aan bid vir ons geliefdes wat Hom nog nie ken nie, sodat hulle ons ook mettertyd soontoe sal vergesel. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS