Vreesloos vorentoe – Dag 8
Vreesloos vorentoe: Deur die struikelblokke
Bybelteks(te)
PSALMS 33
JAKOBUS 1
Geloof en wysheid
Jare gelede het ʼn wyse koning besluit om die opregtheid van die burgers van sy ryk te toets. Hy het vroegoggend ʼn groot klip tot in die middel van die pad gerol en toe self agter ʼn rots gaan skuil om te sien wie die klip vir ander reisigers uit die pad sou rol.
Soos die koning vermoed het, het van die rykste en mees vooraanstaande burgers van sy ryk bloot rondom die klip geloop. Van hulle het selfs die koning luidkeels gekritiseer oor die klip wat in die middel van die pad lê omdat hulle gevoel het dat dit sy verantwoordelikheid was om te sorg dat dit nie daar lê nie. Niemand het egter probeer om die klip te skuif nie.
Teen laatmiddag het ʼn arm kleinboer met sy stootkarretjie by die klip verbygekom. Hy het dadelik gestop en vir die volgende uur geswoeg en gesweet om die klip uit die pad te rol. Om sy asem terug te kry, het hy vir ʼn oomblik teen die wiel van sy karretjie geleun en teruggekyk na die holte waar die klip voorheen in die pad gelê het. Meteens het hy ʼn sakkie daarin opgemerk. Hy het nuuskierig nadergestap, dit opgetel en oopgemaak. Dit was propvol goue muntstukke met ʼn nota van die koning daaraan vasgesteek: “Dié muntstukke behoort aan die persoon wat die klip uit die pad gerol het.”
In ons lewens is daar ook van tyd tot tyd klippe in die pad. En soos die koning agter die rots geskuil het en die mense dopgehou het, hou God ons ook dop. In Psalm 33:13 lees ons immers: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon.” Hy gebruik soms struikelblokke om ons karakter te toets. In Jakobus 1:2-3 lees ons: “My vriende, daar gebeur partymaal met julle verskeie soorte slegte dinge wat vir julle toets. Die dinge wil vir julle laat ophou om God te dien. Julle moet baie bly wees wanneer dit gebeur, want julle weet dat wanneer hierdie dinge julle geloof so toets, dan help dit julle om aan te hou glo.”
Is jy tans in ʼn situasie waar ʼn struikelblok soos die klip in die pad voor jou lê? Dalk is dit in die vorm van ʼn uitdaging in die werkplek, jou huwelik, jou gesondheid, met een van jou kinders of dalk met jou skoonfamilie? Of dalk het jy aansoek gedoen vir ʼn bepaalde pos, maar iemand met heelwat minder ervaring as jy, is daarin aangestel? Of dalk het iemand ʼn skinderstorie oor jou versprei waaraan jy niks kan doen nie? Wat is jou reaksie te midde van hierdie uitdagende situasies? Verwyt jy mense — en selfs vir God? Of slaag jy die karaktertoets deur jou geloof in Hom te behou?
Abraham en Josef het beide uitdagende situasies beleef waarin hulle net op God kon vertrou. Te midde van hul krisisse het God hulle karakters getoets. Beide het die toets geslaag en God het vir Abraham ʼn vader van nasies gemaak en vir Josef binne ʼn dag van gevangene tot onderkoning van Egipte bevorder.
Elke struikelblok is ʼn geleentheid om ons huidige situasie te verbeter. Dít is wat die arm boer daardie dag langs die pad beleef het. Kom ons slaag die toets. Die beloning aan die ander kant mag dalk ook ons asems wegslaan. Sterkte!